Foto’s van Griekwastad-slagoffers in hof gewys

‘n Foto van Deon, Christelle en Marthella Steenkamp tydens hul roudiens. Foto: Maricelle Botha/OFM

Foto’s van die liggame van Deon Steenkamp (44), sy vrou Christelle (43) en hul dogter Marthella (14) is Maandag in die Noord-Kaapse hooggeregshof gewys tydens die verhoor van die 16-jarige seun wat van hul moorde aangekla word.

Die staat het die Steenkamps se familielede vooraf gewaarsku dat die foto’s grafies van aard is en hulle moontlik kan ontstel. Regterpresident Frans Kgomo het die hofverrigtinge vlugtig uitgestel om die familielede kans te gee om te besluit of hulle in die hof wil bly terwyl die foto’s vertoon word. Een van die foto’s wys ʼn man wat op sy maag lê. Hy het ʼn blou hemp aan en daar is ʼn bloedplas op die vloer langs hom. ʼn Ander foto wys ʼn vrou in ʼn groen top en blou kortbroek wat op haar sy lê. Die foto’s het deel uitgemaak van kol. Sietze Albertse, ʼn kenner van misdaadtonele, se getuienis. Albertse het verduidelik van nuwe tegnologie waarvolgens ʼn 360° foto van ‘n misdaadtoneel saamgestel kan word. Willem Coetzee, die minderjarige seun se regsverteenwoordiger, het egter daarop gewys dat die foto’s gemanipuleer kan word. Albertse het toegegee dat dit die geval is. Die saak is tot Dinsdag uitgestel.

Die seun het vroeër Maandagoggend onskuldig gepleit op die aanklagte teen hom. Hy staan tereg op drie aanklagte van moord, een van verkragting en een van regsverydeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.