Foto’s van Terre’Blanche-moordtoneel op Facebook

Drie gru-foto’s van die vermoorde AWB-leier, Eugene Terre’Blanche, is op die sosiale netwerk Facebook geplaas.

Die familie se regsverteenwoordiger, Gerrie Basson, sê die Terre’Blanche-familie en die AWB is getraumatiseerd oor die publisering van die foto’s. Basson sê hulle weet wie die foto’s op Facebook geplaas het en het die persoon tot Donderdag om middernag gegee om dit te verwyder. Hy sê indien die foto’s nie verwyder word nie, Terre’Blanche se seun ʼn interdik sal bekom om seker te maak dit word verwyder. Die foto’s is op die groep “Boere Krisis Aksie” se blad gepubliseer. Die foto’s wys Terre’Blanche se erg bebloede lyk op ʼn bed met ʼn panga wat op sy bors lê. “Boere Krisis Aksie” sê op sy Facebook-blad dat die foto’s nie uit ʼn polisiedossier kom soos wat berig word nie maar uit die boek ‘Die Mandela legende’ deur Dr. P.W. Möller. ʼn Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Mthunzi Mhaga, sê hulle kon nog nie bepaal of die inligting waar is nie. Hy sê die persoon wat die foto’s op Facebook gelaai het, kan moontlik skuldig wees aan minagting van die hof aangesien die saak sub judice is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.