Foto’s: Versoek vir perdevoer ná weiveld afbrand

Wetnose Animal Rescue het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om voer vir perde aan te skaf nadat hul kleinhoewe in Rayton, oos van Pretoria, oor die naweek afgebrand het.

“ʼn Brand het uitgebreek op ʼn kleinhoewe naby ons perseel waar mense vullis verbrand het,” het die organisasie Dinsdag in ʼn verklaring gesê. “Die brand het egter buite beheer geraak en het, ten spyte van ons voorbrande, deur die erge Augustus-winde na ons perseel versprei. Dit het totale verwoesting op ons gronde veroorsaak en al ons weivelde vernietig.”

Die dierewelsynorganisasie sê bykans die hele gemeenskap het opgedaag om die brand te help bestry, maar dit was tevergeefs. “Ons het al ons weiveld verloor.”

“Een van ons toesighouers was so braaf, dat hy deur die vlamme gehardloop het om donkies te red wat deur die vlammehel vasgekeer was en nie geweet het waarheen om te gaan nie,” het Wetnose gesê. “Gelukkig het nie een van ons diere seergekry nie, behalwe vir die donkies wat se hare bietjie geskroei het, maar dit is darem nie ernstig nie.”

Die brand het veroorsaak dat digte rookwolke oor die hondehokke gewaai het, en personeel en vrywilligers het in die rookwolke rondegeskarrel om al die honde na veiligheid te neem. Perde, skape en boklammetjies is ook na veiligheid geneem omdat hulle nie in hul kampe kon asemhaal nie.

Die brand het op 17 Augustus omstreeks 08:00 uitgebreek en is teen 16:00 geblus.

Die organisasie sê alhoewel hulle geen diere in die brand verloor het nie, sukkel hulle nou om genoegsame voedsel vir 35 geredde perde en donkies te kry wat tans deur Wetnose versorg word. “Ons spandeer gewoonlik sowat R12 000 aan perdevoer, wat hoofsaaklik uit bale bestaan, maar nou gaan ons sowat R90 000 benodig,” het die organisasie gesê.

Hulle doen ʼn beroep op boere en die publiek om voer vir perde te skenk of finansiële bydraes te maak. Vir meer inligting bel 0861 WET NOSE (938 6673) of 013 932 3941/2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Melissa ·

Ek sal saterdag ‘n bakkie vol Lucerne na hulle toe vat!! Arme diertjies!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.