Foto’s: Verwoestende veldbrand by Sondela

Foto’s: Bejaarde egpaar sterf in Sondela-brand. Lees meer hier.

‘n Weghol veldbrand het Saterdagmiddag groot skade aangerig en talle mense moes ontruim word by die Sondela-natuurreservaat buite Warmbad.

Die veldbrande het glo vroeër vanmiddag aan die chalets se kant ontstaan en vinnig ʼn pad van verwoesting gesaai. Neville Haarhoff, wat by Sondela betrokke is, het op Facebook gesê dat 66 chalets afgebrand het. “Gelukkig het ons vinnig besluit om te ontruim en die gaste gelukkig mooi saam gewerk.” Ronel Rheeder Oosthuysen het op Facebook gesê dat sy en haar gesin in een van die chalets vasgekeer was. “Dit was traumaties om vir meer as ‘n halfuur vasgekeer te gewees het, maar ons is veilig terug in Pretoria.” ʼn 54-jarige man is met ʼn Helivac-helikopter na die hospitaal geneem vir brandwonde en rookinaseming. Maroela Media verstaan dat minstens 30 mense op die toneel vir onder meer brandwonde en rookinaseming behandel is.

Sondela het op sy Facebook-blad gesê ʼn ondersoek is van stapel gestuur en dat hulle binnekort ʼn persverklaring oor die voorval sal uitreik. “Ons wil graag al die gaste, personeel, studente, die ouers van die studente, Work on Fire, Pick en Pay, plaaslike besighede, bure en al die wonderlike mense bedank vir hulle bystand en gebede. Ons by Sondela waardeer dit regtig.” Sondela sê hy is intussen besig om al die gaste te kontak rakende die prosedure wat nou in werking sal tree. “Ons vra dat almal asb moet kalm bly en wag vir ons persverklaring. Ons waardeer almal se hulp en gebede.” Volgens berigte het twee mense in die brand gesterf. Dit kon egter nog nie bevestig word nie.

[nggallery id=73]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.