Foto’s: Vliegtuig skeur in twee ná hy aanloopbaan mis

‘n Vliegtuig van Indonesië met meer as 100 passasiers aan boord is Saterdag in twee dele geskeur nadat hy die aanloopbaan by ‘n lughawe in Bali gemis, en in die see beland het.

Talle mense is beseer, maar niemand is nog as dood aangemeld nie. Die nuwe Boeing 737-800 was van die winskopie lugredery Lion Air, wat onlangs talle vliegtuie bestel het, maar uit Amerikaanse en Europese lugruimte verban is weens besware oor die veiligheid van die lugredery.

Die binnelandse vlug het geëindig met skreeuende passasiers toe die vliegtuig die water getref het nadat hy, ondanks uitstekende weerstoestande, die aanloopbaan by die gewilde vakansieoord se Denpasar-lughawe gemis het.

Die vliegtuig, wat verlede maand aan Lion Air oorhandig is, het naby die einde van die aanloopbaan gedeeltelik onder die water tot rus gekom, met opblaasglybane wat van die voorste uitgange en ‘n gaping aan die agterkant ontplooi is. Passasiers het in lewensreddingsbaadjies in die water gedryf toe die polisie met rubberbote na hulle geroei het.

“Die vliegtuig het die water teen ‘n hoë spoed getref,” het passasier Ignatius Juan Sinduk (45) uit sy hospitaalbed gesê. Sy bors is in die ongeluk beseer. “Almal het geskree en water het skielik by die vliegtuig begin instroom. Die passasiers was paniekerig en het lewensreddingsbaadjies gesoek. Van die passasiers het geval, van hulle het in mekaar vasgehardloop, dit was chaos. Ek kon ‘n lewensreddingsbaadjie in die hande kry en het stadig uit die vliegtuig na die oewer toe geswem.”

Volgens ‘n woordvoerder van die lughawe moes 45 passasiers hospitaalbehandeling ontvang. ‘n Dokter sê een vroulike passasier het ‘n lewensbedreigende breinbesering opgedoen.

Bali is ‘n gewilde vakansiebestemming en miljoene uitlanders besoek jaarliks die eiland. Drie uitlanders, ‘n man van Frankryk, en ‘n man en vrou van Singapoer, was op die vlug.

Beamptes probeer steeds die oorsaak van die ongeluk bepaal. Edward Sirait, direkteur van algemene sake van Lion Air, het gesê die vliegtuig was van Bandung in Wes-Java onderweg na Bali met 101 passasiers naamlik 95 volwassenes, vyf kinders en ‘n baba, en sewe bemanningslede aan boord. “Die vliegtuig het in twee geskeur. As mens so daarna kyk sal die vliegtuig nie weer gebruik kan word nie.”

Lion Air het tussen 2004 en 2006 ses vliegtuigongelukke beleef. Niemand is dood nie, maar die vliegtuie het telkens die aanloopbaan gemis.
[nggallery id=113]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

H J Bester ·

Hoekom van sy ‘n lugredery gebruik maak as hy reeds ‘n swak rekord het. ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.