Foto’s: Wenners van die nasionale Akademia-Sakeplankompetisie aangewys

Andries Els van Pretoria het die afdeling vir nuwe sakeondernemings gewen met sy Almoto-balanseermotorfietse vir kinders. Foto's: Phillip Bruwer

Andries Els van Pretoria het die afdeling vir nuwe sakeondernemings gewen met sy Almoto-balanseermotorfietse vir kinders. Foto’s: Phillip Bruwer

Meer foto’s volg onderaan die berig.

Die wenners van Akademia se nasionale Sakeplankompetisie is gisteraand tydens ʼn glansgeleentheid in die Atterbury-teater aangewys. Andries Els van Pretoria het die afdeling vir nuwe sakeondernemings gewen met sy Almoto-balanseermotorfietse vir kinders. In die afdeling vir bestaande sakeondernemings het Justin van der Walt van Stellenbosch met die louere weggestap, met sy uitbreidingplan vir sy rekenaarherwinningsonderneming, Just PCs, na Centurion.

Die pryse wat deur elk van die twee afdelingswenners gewen is, is prysgeld ter waarde van R75 000.00, geborg deur Investec Batebestuur, ʼn driejaar-studiebeurs in Entrepreneurskap en Kleinsakebestuur by Akademia deur die Atterbury Trust, en 90%-afslag op ʼn jaar se mentorskap van die Riskflow Instituut.

Die finaliste wat die tweede plek in beide afdelings beklee, het elk R25 000 met komplimente van die Solidariteit Beleggingsmaatskappy ontvang. Erika Lessing van Frankfort het die tweede plek in die afdeling vir bestaande sakeondernemings behaal, met haar sakeplan getiteld Kasteelkop Gasteplaas. Haar plan behels die uitbreiding van ʼn bestaande gasteplaas na, onder andere, ʼn plek vir huweliksonthale. Die tweede plek in die afdeling vir nuwe sakeondernemings  word beklee deur Renita Fourie van Bloemfontein met haar sakeplan vir Chiren Chix – ʼn onderneming wat gevulde hoenderrolle aan die publiek verskaf.

Die derde plek in beide afdelings was ook die gehoorkeuses van die aand. Ceward Thornhill met sy sakeplan oor pynappelbier was die gelukkige kandidaat in die afdeling vir nuwe sakeondernemings wat twee mentorskapprogramme van 6 maande elk deur die Riskflow Instituut gewen het. Dieselfde pryse is ook gewen deur Coenie Erasmus in die afdeling vir bestaande sakeondernemings met sy sakeplan vir Helendergie, wat die ontwerp van sonpanele behels.

Deelnemers het reeds die oggend van 26 November in die Atterbury Teater byeengekom, en elk van die finaliste het 30 minute geleentheid gehad om die paneel daarvan te oortuig dat hy/sy hul sakeplan die beste verstaan en uitgewerk het. Tydens die halfuur het die paneel beoordelaars ook kans gehad om in tipiese “Dragon’s Den”styl, die finaliste oor hul sakeplanne uit te vra.

Die goeie nuus is dat van die finaliste reeds tydens die aand se funksie potensiële beleggers verkry het. Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, was vanjaar se kompetisie ʼn goeie voorbeeld van die behoefte wat  in die mark bestaan vir die opleiding van entrepreneurs. “Dit inspireer ons om volgende jaar se kompetisie op nog ʼn groter skaal aan te pak, met nog meer werkswinkels om die mense op te lei”, aldus Visser.

Die internasionaal erkende paneel beoordelaars het bestaan uit name soos Louis van der Watt van die Atterbury Groep, Chris Derksen van Investec Batebestuur, prof. Bernie van Zijl (internasionale professor in entrepreneurskap), Theo Van Wyk van die Riskflow Instituut en verbonde aan die AHI, Daniel Appelmans (internasionale direkteur van Nestlé) verbonde aan X-Change en Henk Schalekamp, voorsitter van die Solidariteit Beleggingsmaatskappy.

Deelnemers kon vroeër vanjaar in een van twee afdelings inskryf, naamlik bestaande sake-idees en nuwe sake-idees. Hierdie idees is beoordeel en die top 50 finaliste het na die tweede ronde deurgedring, wat bestaan het uit ʼn sakeplanwerkswinkel en die omskrywing van die sake-idee in ʼn volwaardige sakeplan. Hieruit is ses finaliste gekies, wat op 26 November deur die loop van die oggend hul sakeplanne aan die paneel beoordelaars voorgelê het.

Beplanning vir die 2014-sakeplankompetisie is reeds aan die gang, en verskeie media-instellings, kultuurorganisasies en sakekamers het reeds aangedui dat hulle belangstel.

[ngg_images gallery_ids=157 display_type=”photocrati-nextgen_basic_thumbnails” number_of_columns=”4″]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.