Foto’s: Wit Kersfees in Augustus

Sneeu in Clarens Foto deur @evergleamy op Twitter gelaai

Talle mense regoor Suid-Afrika het Dinsdagoggend in ʼn winter-wonderland wakker geword weens sneeuval oornag.

Sneeu het in die Vaal, Wes-Rand en sekere gedeeltes van Johannesburg geval. Berigte is ook ontvang van ligte sneeuvlokkies in Illovo, Parktown en Auckland park in Johannesburg.

Laetitia van den Heever, eienaar van die Pomegranate Gastehuis in Vanderbijlpark, sê dié gebied beleef sneeuval gewoonlik een keer elke vyf of ses jaar. “Die sneeuvlokkies het op die plante gaan lê. Dit is so mooi, dit lyk soos Kersfees!” het van den Heever gesê.

In die Vrystaat en KwaZulu-Natal is daar berig oor sneeuval in Van Reenen’s Pass, Harrismith, Natal Midlands en Mooirivier, maar die N3 bly steeds oop. Sneeu het ook in Howick, Umlazi, Underberg en Kokstad geval. Bloemfontein het Maandagaand reeds ʼn ligte sneeuval beleef, terwyl Clarens en die omliggende gebiede swaar sneeuval ervaar het. Sommige gebiede in Durban het Maandag swaar reën en haelstorms ondervind.

Kaapstad het ook swaar reënval ervaar wat weer in vloede en tot padversperrings in sekere gebiede gelei het. Carlton Fielies, weervoorspeller, sê egter die koue front wat vir dié weer verantwoordelik is, is reeds oor Kaapstad. Die Voortrekkerbrug in Montague is gesluit weens vloede en die Swartbergpas tussen Prince Albert en Oudtshoorn is vir verkeer gesluit weens swaar sneeuval.

Kenny Africa, hoof van die verkeersdepartement in die Wes-Kaap sê daar is ook swaar sneeuval op die N1 in die provinsie, maar die pad is nog nie gesluit nie. “Ons doen ʼn beroep op motoriste om baie versigtig te ry,” het Africa gesê.

Die Weerdiens sê die koue front sal spoedig verby wees. Temperature behoort weer teen Donderdag te styg, maar Jan Vermeulen van die SA Weerdiens, sê dit is moontlik dat nog ʼn koue front die land teen Vrydag kan tref.

Sneeu dit by jou? Stuur gerus jou foto’s aan ons na [email protected].

Hiermee ‘n paar foto’s wat ons lesers ingestuur het:
[nggallery id=57]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.