Zuma se 67 minute vir die ANC

Hennie Barnard Foto: Helpende Hand

President Jacob Zuma het vandag 15 huise amptelik aan nuwe eienaars oorhandig as deel van die Danville-projek.

Anna Pretorius (29) is een van persone wat ʼn huis ontvang het. Sy het in Mei haar intrek geneem saam met haar twee jong kinders. Voorheen het sy agt maande lank onder swak omstandighede in die Bethlehem-skuiling gebly. “Ek gaan vir die ANC stem, want hulle het dan vir my ʼn huis gegee. Maar ek glo nie my ma gaan vir hulle stem nie,” het Pretorius aan Solidariteit Helpende Hand, wat die geleentheid bygewoon het, gesê. “[By Bethlehem-skuiling] was nie krag nie en net soms warm water. Ons het min kos gekry en baie min vleis. Jy kon die vleis ruik, maar jy’t dit omtrent nooit gesien nie.”

In huis nommer 57 het oom Hennie Barnard (70) trots sy nuwe party se kleure oral in die nuwe huisie uitgestal. Op sy tafel lê ʼn ANC-tafeldoek en teen sy mure pryk ANC-plakkers. Hyself is spesiaal geklee in ʼn ANC-pet met ʼn ANC-plakker op sy bors. En hy het trots vir almal vertel dat hy nou by die ANC gaan aansluit en beslis vir hierdie party gaan stem in die komende verkiesing.

Solidariteit Helpende Hand het voer egter aan die ware rede vir Zuma se oorhandiging van 110 huise aan onder andere die inwoners van die Bethlehem-skuiling in die weste van Pretoria, is om stemme te wen in die komende verkiesing. “Die verkiesingstrategie van ‘gee ʼn huis, wen ʼn stem’ het beslis gewerk,” sê Christine Breet, adjunk-hoof van Solidariteit Helpende Hand. “Armoedeverligting in die vorm van huisvesting is een van die grootste motiveerders om persone te kry om hulle stemme aan ʼn bepaalde politieke party toe te sê. “

Helpende Hand het vroeër die vraag aan Zuma gestel wanneer ander haweloses ook huise sal kry. “Wat van die mense wat in houthuisies agterin mense se erwe bly? Wat van die mense wat noodgedwonge by familie se reeds oorvol huise moet intrek om ʼn dak oor die kop te hê?” het Breet bygevoeg.

Pretorius se ma, Aletta Nienaber (52) het vir 11 maande lank in Bethlehem gebly, ook die vorms ingevul om aansoek te doen vir ʼn nuwe huis, maar nog nie ʼn nuwe huis gekry nie. Nienaber, haar man en hulle twee kleinkinders bly nou ook by Pretorius in haar nuwe huis.

Volgens die behuisingsbeamptes het mense met kinders voorrang geniet. Die feit dat Nienaber na haar twee kleinkinders omsien, het egter nie in haar guns getel nie. Sy het nog geen aanduiding wanneer en of sy ook ʼn huis gaan ontvang nie.

Tydens die oorhandigingsgeleentheid het verskeie mense Helpende Hand genader om te vra hoe hulle ook huise kan kry. “Inwoners uit die omgewing het gekla dat hulle name al jare lank op die lys vir behuising is, maar dat hulle steeds wag. Ander het hulle name wel ingevul, maar daar was nie genoeg vorms vir hulle om te voltooi nie. Hulle wag steeds op die vorms,” het Juanita du Preez, woordvoerder vir Helpende Hand, gesê.

Om Helpende Hand te steun in die stryd om armoede werklik uit te roei, kan jy ʼn SMS met die woord “hand” na 34388 stuur en ʼn agent sal jou skakel om vas te stel hoe jy betrokke wil raak. Elke SMS kos R2.

Foto: @solidaridirk op Twitter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Paul

Geen onderskeid tussen staat en party nie.

Marinda Hibbers Pretorius

Ek dink ek gaan huil….wat dink hierdie mense…Oom Hennie, jy het voorwaar ver geval….

Naomi Schulze

Waar kom die huise so vinnig en skielik vandaan?

H J Bester

Hierdie klompie arm blankes van Danville, Pretoria was nog altyd met ons en is ‘n groot deel van hul omstandighede aan hulself te wyte – min ambisie, min dryfkrag, min ondernemingsgees baie min selfstrots en daarenteen lui. Baie van hulle leef slegs van aalmoese en is al by verskeie geleenthede in die verlede deur weldoeners gehelp en versorg – egter sonder enige teëprestasie om selfstandig en selfonderhoudend te raak – hulle gee blykbaar nie veel om om versukkeld te wees nie. Die blankes is tans die prooi van ‘n politieke foefie van Zuma om blanke-steun te werf – sal egter… Lees meer »

Pieter

Nee poppie ( Anna Pretorius) dit is ek wat belasting betaal wat jou die huis gegee het.