Foutiewe onderdeel laat Mandela-ambulans breek

Nelson Mandela op 2 Junie 2009 Foto: Nelson Mandela-stigting/SAPA

Nelson Mandela op 2 Junie 2009 Foto: Nelson Mandela-stigting/SAPA

Die weermagambulans wat voormalige pres. Nelson Mandela op 8 Junie na die hospitaal geneem het, het glo onklaar geraak weens ʼn foutiewe onderdeel, het die departement van verdediging en militêre veterane gesê.

“Die voertuig is drie maande vantevore gediens,” het minister Nosiviwe Mapisa-Nqakula gesê. “Die voertuig is teruggeneem na die handelaar om die oorsaak van die meganiese probleme te bepaal. Die handelaar het aangedui dat die spesifieke enjinonderdeel nie deel is van die normale merklysie vir dié spesifieke groot diens nie.”

Mapisa-Nqakula het skriftelik reageer op ʼn vraag in die parlement deur David Maynier, LP vir die DA.

Die ambulans het Mandela in die vroeë oggendure van sy huis in Houghton, Johannesburg, na die Medi-Clinic Harthospitaal in Pretoria vervoer toe die enjin onklaar geraak en hulle vir sowat 45 minute lank langs die pad staan en wag het.

Mandela is in die hospitaal opgeneem weens ʼn herhalende longinfeksie.

Die presidensie het net ná die voorval gesê Mandela se gesondheid is nie hierdeur benadeel nie.

“ʼn Ambulans met ʼn volledig toegeruste intensiewesorgeenheid is dadelik ontbied om die eerste ambulans te vervang,” het Mapisa-Nqakula gesê. “ʼn Volledige groep spesialiste en verpleegsters was in die tweede ambulans. Die weermag se nooddiensambulans is ook vergesel deur ʼn ambulans van ʼn privaatmaatskappy en twee reaksievoertuie vir die res van die tog.”

Mandela het sowat drie maande lank in die hospitaal spandeer. Hy is op 1 September ontslaan en ontvang tans behandeling by die huis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.