Foxon-moord: Nóg ‘n verdagte vas

Nóg ʼn verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op die waarnemende bestuurder van die Umbhaba-lodge naby Hazyview in Mpumalanga, Dave Foxon.

Foxon (43) en sy vrou, Bianca, is Dinsdagaand omstreeks 20:00 deur twee rowers oorval. Die verdagtes het die egpaar glo vasgebind voor hulle die huis geplunder het. Foxon kon glo daarin slaag om homself los te maak voor hy een van die verdagtes gegryp het. Hy is twee keer in sy gesig en een keer in sy been geskiet. Hy is op die toneel dood. ʼn Polisiewoordvoerder, kol. Leonard Hlathi, sê die 20-jarige verdagte is naby Hazyview met ʼn vuurwapen in sy besit in hegtenis geneem. Hlathi sê dit is moontlik die moordwapen en is vir ballistiese toetse gestuur. Die verdagte sal Maandag in die Witrivier landdroshof verskyn. Die eerste verdagte, Silindile Mokoena (30), is die aand van die moord in hegtenis geneem. Hy het reeds in die hof verskyn en die saak is uitgestel tot 19 April. Foxon word oorleef deur sy swanger vrou, Bianca, sowel as ʼn 2-jarige kind en ʼn vyf maande oue baba.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.