‘Fracking’ skokkende besluit oor hidroliese breking – AfriForum

AfriForum is geskok deur die kabinetsbesluit om die moratorium op hidroliese breking, bekend as ‘fracking,’ op te hef om vir skaliegas in die Karoo te prospekteer.

Volgens Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, kan dié besluit katastrofale gevolge vir die toekoms inhou. “Suid-Afrika is ’n waterskaars land. Regoor die wêreld is dit duidelik dat hidrobreking ekosisteme verwoes en veral water besoedel,” het Kleynhans gesê.

Die minister van minerale bronne, Susan Shabangu, het verlede jaar ’n moratorium op hidrobreking in die ekologies sensitiewe Karoo ingestel en dié moratorium is nou opgehef. “Die area is ’n uiters sensitiewe, semi-woestyn-omgewing wat nie weer na sy natuurlike staat sal herstel na so ’n impak nie. Ongeag watter voorsorg ook al getref word, dit kos net een glips of ’n kortpad wat gevat word en die omgewing sal onherstelbaar geskaad wees,” het Kleynhans gemeld.

“Dit is juis om dié rede dat AfriForum die voorgestelde wysigings aan die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur in die parlement teengestaan het. Die wysigings maak voorsiening daarvoor dat die verantwoordelikheid vir omgewingsbestuur gedeel word tussen die departement van omgewingsake en die departement van minerale bronne, wat die departement van minerale bronne in staat stel om besluite aangaande omgewingsbestuur in die mynsektor te kan neem,” het Kleynhans gesê.

Die internasionale oliegroep Shell SA, Bundu Gas & Oil en Falcon Gas & Oil het aansoek gedoen vir eksplorasielisensies vir skaliegas in ’n gebied van oor die 250 000km² in die Karoo.

AfriForum gaan stappe teen die besluit neem in die vorm van ’n veldtog teen hidrobreking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

goggarob ·

Elke verantwoordelike wereldburger behoort sensitief te wees vir enige bedryf of proses wat moontlike toekomstige skadelike gevolge vir die omgewing kan inhou. Vraag is net…. waar word die streep getrek. In hierdie geval word daar tipies filantropies op die sentimentele snaar gespeel en word elkeen wat maar wil luister opgesweep met net soveel ongetoetste teoriee as wat die anderkant het.
My vraag aan julle “fracken”-anti’s is of julle bereid is of sal wees om julle self aan ‘n “energielose” omgewing of lewe bloot te stel? Julle sal seker vra wat ek daarmee bedoel…. wel net dit…. die 21 eeuse persoon kan net nie meer sonder die gerief van “energy on tap” klaarkom nie! Nou praat almal van son en wind alternatiewe …. pragtig… skoon… en selfs volhoubaar! Heng ja, en daar is tog nog so baie steenkool in die land beskikbaar waarom dan neuk met skaliegas… En die omgewing waar die steenkool ontgin word is tog klaar in sy moer….
Het enigiemand van die “anti’s” al gedink daaraan dat juis daardie opofferings in die areas waar
steenkool ontgin word ook vir hulle gerief en voorspoed tot nou toe gesorg het…. Of is die Karoo se ekosisteem dan nou soveel meer belangrik as die van die steenkoolveld areas?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.