Frans Swemmer (89) se aanvaller glo skisofrenies

ʼn Self-erkende moordenaar wat sy vriende gehelp het om die 89-jarige Frans Swemmer dood te slaan, was sy lewe lank ʼn slagoffer, het die Noord-Gautengse hooggeregshof gehoor.

Die Staat het die hof gevra om Albert Mothiba (37) tot lewenslange tronkstraf te vonnis vir die moord wat in November 2009 plaasgevind het, maar die verdediging het beweer dat Mothiba nie ten volle vir sy aksies verantwoordelik is nie, aangesien hy glo skisofrenies is.

Mothiba het erken dat hy en twee vriende by Swemmer se huis in Monumentpark sit en wag het sodat hulle hom kan beroof. Hy sê hy het buite gewag terwyl die ander twee Swemmer vasgebind en met ʼn hamer en skroefsleutel aangeval het. Hulle het hom toe glo geroep waarop hy die ernstig beseerde man geskop het. Mothiba sê hy het ingestem om die twee te help omdat hy desperaat was om een of ander inkomste te bekom, aangesien hy haweloos was.

ʼn Vriendin van Swemmer, Anita Stander, het getuig dat hy ʼn aktiewe, gesonde man was, ten spyte van sy ouderdom.

Van Zyl Nel, verdediging vir Mothiba, het erken dat die aanval op Swemmer onnodig wreed was, maar dat die hof in gedagte moet hou dat hy “soos ʼn instrument gebruik” is deur sy mede-oortreders. Nel sê dat Mothiba buite gebly het, en, buiten dat hy die oorledene geskop het, het hy nie aan die aanval deelgeneem nie. Hy beweer Mothiba word maklik beïnvloed weens sy agtergrond en geestelike gesondheid, maar dat hy opreg berou toon vir sy dade. Mothiba sal ook teen sy mede-beskuldigde getuig.

Staatsaanklaer Elbie Leonard het versoek dat Mothiba tot lewenslange tronkstraf gevonnis sal word vir dié beplande moord. “Hy het aktief aan die aanval en roof deelgeneem en was deur hebsug gemotiveer,” het sy gesê. Sy sê Swemmer was ʼn maklike teiken, aangesien hy bejaard was en alleen gebly het en sy versoek die hof om ʼn swaar straf vir dié aanval op te lê om sy afsku aan soortgelyke misdade te bewys.

Regter Pretorius sal op 7 Junie die vonnis uitspreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.