Franse gyselaars op pad huis toe

V.l.n.r. en van bo na onder Daniel Larribe, Marc Feret, Thierry Dol en Pierre Legrand

V.l.n.r. en van bo na onder Daniel Larribe, Marc Feret, Thierry Dol en Pierre Legrand

Vier Franse burgers wat langer as drie jaar deur Al-Kaïda in Wes-Afrika aangehou is, is Woensdag op pad huis toe nadat hulle met behulp van die regering van Niger vrygelaat is.

Pierre Legrand, Thierry Dol, Daniel Larribe en Marc Feret is in September 2010 in die noorde van Niger ontvoer deur Al-Kaïda. Hulle het in daardie stadium by ʼn uraanmyn, sowat 1 000 km van die hoofstad Niamey, onder beheer van die Franse maatskappy Areva, gewerk.

Niger grens aan Mali, waar Franse soldate sedert die begin van die jaar teen AQIM en ander militante Islamitiese groepe veg. Die gyselaars het glo ʼn groot deel van hul aanhouding in Mali spandeer.

Hul vrylating is Dinsdagaand deur Francois Hollande, president van Frankryk, aangekondig. Hy het nie besonderhede verskaf nie, maar Mahamadou Issoufou, die president van Niger, bedank.

Volgens beamptes in Frankryk was daar nie ʼn klopjag om die gyselaars te bevry nie. Laurent Fabius, minister van buitelandse sake in Frankryk, het ontken dat enige losprys betaal is.

Daniel Larribe se vrou, Francoise, het gesê ʼn “tsoenami” van emosies het haar getref toe sy hoor haar man is bevry. Sy was deel van die oorspronklike groep van sewe gyselaars wat in Arlit ontvoer is. Sy is in Februarie 2011 vrygelaat weens haar gesondheid. Twee ander gyselaars, een persoon van Togo en ʼn ander van Madagaskar, is ook saam met haar vrygelaat.

Twee mans van Frankryk wat in 2011 in Mali ontvoer is, word steeds aangehou. Philippe Verdon, ook van Mali, is vroeër vanjaar deur sy ontvoerders vermoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.