Franse speurders soek Schumi-video

Michael Schumacher Foto: www.dw.de

Michael Schumacher Foto: www.dw.de

ʼn Staatsaanklaer van Frankryk het Sondag gesê hy wil die beweerde selfoonbeeldmateriaal sien van die ski-ongeluk waarin Michael Schumacher beseer is.

Die 45-jarige F1-kampioen word steeds onder verdowing gehou nadat hy erge breinbeserings opgedoen het toe hy agt dae gelede by die Meribel-oord in die Franse Alpe geval en sy kop teen ʼn klip gestamp het. Hy het glo ʼn valhelm aangehad, maar die helm het tydens die impak in twee gebreek.

Die omstandighede van die ongeluk word bevraagteken, en Sabine Kehm, Schumacher se bestuurder, het Saterdag aangekondig dat sy familie ʼn kamera aan die Franse owerhede oorhandig het. Dié kamera was glo aan sy valhelm vasgemaak.

Patrick Quincy, staatsaanklaer van Albertville, het aan die Associated Press gesê dat Franse ondersoekbeamptes ook stappe doen om ʼn video te bekom wat met ʼn selfoon geneem is. Die Duitse tydskrif, Der Spiegel, het glo berig dat dié beeldmateriaal bestaan. Quincy wou nie verder kommentaar lewer nie, en het aangedui dat ʼn perskonferensie vandeesweek gehou sal word.

Spiegel het laat Saterdag berig dat ʼn anonieme 35-jarige man met die tydskrif in verbinding getree het, en aanvoer dat hy die ongeluk op sy selfoon vasgevang het. Die man word slegs as ʼn vlugkelner beskryf. Volgens die ooggetuie het Schumacher nie vinniger as 20 km/h geski toe hy geval het nie. Die tydskrif het nie die beeldmateriaal op sy webwerf vertoon nie, en voer ook nie aan dat sy verslaggewers die beeldmateriaal gesien het nie.

Die ooggetuie het glo aangedui hy sal die beeldmateriaal aan die Franse ondersoekbeamptes oorhandig.

Schumacher se broer, Ralf, en pa Rolf, het Sondag teruggekeer na die hospitaal in Grenoble waar hy behandeling ontvang.

Schumacher is die suksesvolste F1-bestuurder in die geskiedenis, nadat hy 91 F1-wedrenne gewen het. Hy het in 2012 uitgetree nadat hy sewe wêreldtitels ingepalm het.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ria Maritz ·

Ek stem ! Oorhandig dit sodat die waarheid sal seevier.

Intussen, ek hoop en bid steeds vir sy volkome herstel !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.