‘Friends’-akteur (59) sterf

James Michael Tyler in 2013. (Foto: Giulio Marcocchi/Getty Images via AFP)

James Michael Tyler, bekend vir sy rol as die koffiewinkelbestuurder Gunther in die Amerikaanse sitkom Friends, is Sondag in die ouderdom van 59 dood.

Volgens ʼn woordvoerder, Toni Benson, het Tyler sy stryd teen kanker verloor en hy is in sy huis in Los Angeles dood.

“Die wêreld het hom as Friends se Gunther (die sewende ‘vriend’) geken, maar Michael se geliefdes ken hom as ʼn akteur, musikant, kampvegter vir kankerbewustheid en ʼn liefdevolle eggenoot,” het Benson in ʼn verklaring gesê.

Tyler het in ongeveer 150 episodes oor al tien seisoene van dié geliefde sitkom uit die 1990’s gespeel. Gunther het as kelner en bestuurder van die koffiewinkel, Central Perk, gewerk en het regdeur die reeks ʼn ogie op Rachel, vertolk deur Jennifer Aniston, gehad.

Benson onthou Tyler as iemand wat lief was vir lewendige musiekkonserte, hy was ʼn vurige ondersteuner van die Clemson Tigers en het hom dikwels in prettige oomblikke en onbeplande avonture begewe. “As jy hom een ​​keer ontmoet het, het jy ʼn lewenslange vriend gemaak.”

Tyler het ook sy verskyning in ʼn aantal ander reekse gemaak, soos Scrubs, Sabrina the Teenage Witch en Modern Music.

Warner Bros. TV beskou Tyler se afsterwe as die “verlies van ʼn geliefde akteur en ʼn integrale deel van ons Friends-familie”.

Maroela Media het vroeër berig dat Tyler in Junie op NBC se Today Show gesê het dat hy in September 2018 met gevorderde prostaatkanker tydens ʼn roetine-ondersoek gediagnoseer is. Die kanker het sedertdien na sy bene versprei en hy kon nie meer loop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Tiptol ·

Barney, jy kan ten minste die artikels lees vóór jy kommentaar lewer.

Peter Pan ·

Nie alles gaan oor covid en die inenting nie Barney….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.