Die hooggeregshof in Kaapstad het beveel dat die Friends of Zuma Trust vir Richard Young, ʼn fluitjieblaser in die wapenskandaal, skadevergoeding moet betaal weens lasterlike uitlatings.
Young is skadevergoeding van R270 000 toegeken nadat die hof bevind het dat twee inskrywings op die Friends of Zuma Trust se webtuiste oor Young en sy maatskappy, CCII Systems, lasterlik was. In een van die inskrywings is daar gesê dat Young ʼn lid van die Broerderbond en verraaier is. In die ander inskrywing is daar beweer dat Young se maatskappy korrupte metodes gebruik om kontrakte te kry. Die Friends of Zuma Trust is destyds gestig om geld vir president Jacob Zuma in te samel nadat hy van korrupsie aangekla is. Die saak is later laat vaar. Young het skadevergoeding van R500 000 vir hom en R500 000 vir sy maatskappy geëis van die trustees Fikile Majola, Sizwe Shezi en Donald Mkhwanazi. Regter Yasmin Shenaz Meer het die drie trustees se argument dat hulle nie webtuiste-administrateurs is en dus nie beheer het oor inskrywings nie, verwerp. Meer het ook beveel dat die inskrywings verwyder word.
Mooi so! Mens moet soms maar onthou om ‘n wag voor jou mond te plaas!