Fukushima weer erg geskud

Fukushima-kernkragaanleg

Fukushima-kernkragaanleg

Die kernkragsentrale in Fukushima is Saterdagoggend weer deur ‘n kragtige aardbewing getref.

Die skudding van 7,1 op die momentmagnitudeskaal het ‘n klein tsunami van 40 cm tot gevolg gehad, wat blykbaar geen skade aangerig het nie.

Die eienaars van die kernkragsentrale het ook laat blyk dat geen “onreëlmatighede” na die aardbewing aangemeld is nie. Verskeie sterk naskokke het ook gevolg.

Die naaste stad aan die skudding, waarvan die episentrum ook in die see was, is Namie, sowat 320 kilometer weg. Die skudding is ook 475 kilometer verder in Tokyo gevoel.

Die skudding is ongeveer tien keer so sterk soos die aardbewing wat in die jare 60 groot skade in die Boland aangerig het, maar ongeveer 100 keer swakker as die skudding van M 9 wat die gebied op 11 Maart 2011 getref het, en in Japan byna 16 000 lewens geëis het.

Die Japannese skudding beteken dat vanjaar die jaar met die derde meeste aardbewings van M7 of meer die afgelope dekade is, met nog meer as twee maande oor. Tog was die dodetal vanjaar weens aardbewings nog betreklik laag met minder as 2 000 mense wat omgekom het. Dit kan daaraan toegeskryf word dat die sterkste aardbewings gewoonlik in afgeleë en ylbevolkte gebiede voorgekom het.

Daar word nog steeds erg gespook om die Fukushimakernkragsentrale se lekkasie van radio-aktiewe water in die see te stuit na die sentrale in 2011 deur ‘n groot tsunami na ‘n reuse skudding getref is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.