Gada-saak uitgestel vir sielkundige ondersoek

Argieffoto van 'n gada

Argieffoto van ‘n gada

Die borgtogverhoor van ʼn man wat glo sy vrou en twee tienerkinders met ʼn tradisionele Hindu-voorwerp doodgeslaan het, is Vrydag in die Chatsworth-landdroshof uitgestel.

“Die saak teen Rajan Kandasamy (44) is deur landdros Leon Nielsen uitgestel,” het Natasha Ramkosson-Kara, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in KwaZulu-Natal, gesê. “Kandasamy se prokureur, Sivan Samuels, het versoek dat Kandasamy vir sielkundige toetse moet gaan.”

Die saak is tot 14 Januarie uitgestel waartydens Kandasamy by Westville-gevangenis aangehou sal word en deur die distriksgeneesheer en ʼn sielkundige ondersoek sal word.

Kandasamy het glo ʼn gada, ʼn tradisionele Indiese ampstaf van die Hindu-god Hanuman, gebruik om sy vrou en twee kinders, onderskeidelik 17 en 18 jaar oud, te vermoor.

Hul bebloede liggame is op 29 Desember opgespoor nadat ondersoek ingestel is toe die gesin nie ʼn herdenkingsdiens bygewoon het nie. Die beskuldigde se familie het hom op Oujaarsaand aan die polisie oorgegee.

Lees ook:
Man in hof wat glo vrou, kinders met Hindu-voorwerp vermoor
Ma, kinders met “religieuse voorwerp” doodgeslaan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.