Gaddafi, ‘leier van die revolusie’, se ondergang is revolusie

Die voormalige Libiese leier, Muammar Gaddafi. Foto: GCIS

Muammar Gaddafi se gunsteling sêding sedert hy in 1969 aan bewind gekom het in Libië, was “leier van die revolusie”.

Ironies was dit ʼn revolusie, wat nie deur Gaddafi begin is nie, wat tot sy ondergang gelei het nadat hy vir 42 jaar aan bewind was. Die Nasionale Oorgangsraad (NOR) het Donderdag bevestig dat Gaddafi gesterf het nadat hy vroeër die dag in Sirte gevang en geskiet is. ʼn Woordvoerder van die NOR sê Gaddafi se lyk is na ʼn geheime plek geneem om veiligheidsredes. Gaddafi het vroeër vanjaar heftig reageer op die opstande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika. In Maart vanjaar het die Verenigde Nasies millitêre ingryping in Libië aangekondig wat die afgelope maande bloedige gevegte in die land tot gevolg gehad het. Libiese rebelle het weke gelede beheer geneem van Gaddafi se tuisstad, Sirte, terwyl hy en sy familie gevlug het.

Gaddafi is op 7 Junie 1942 in die woestyn in Sirte gebore. Hy het op 27-jarige ouderdom die leier van Libië geword nadat die vorige regering uit die kussings gelig is. Gaddafi het ʼn onstabiele verhouding gehad met die Weste. In 1988 het die VSA en Brittanje Gaddafi se regime daarvan beskuldig dat hulle betrokke was by die Lockerbie-bomaanslag waartydens 270 mense dood is. Die VSA het in 1992 ekonomiese sanksies teen Libië ingestel. Die verhouding tussen die twee lande het egter verbeter en Amerika het Libië in 2003 van sy terroriste-swartlys verwyder en teen 2006 is die diplomatieke verhouding tussen die twee lande herstel. Westerse intelligensieagentskappe glo dat Gaddafi talle sluipmoordpogings oorleef het. Gaddafi is gekenmerk deur sy goudkleurige kaftans en sy Bedouin-tent waarin hy verkies het om te slaap wanneer hy gereis het. Gaddafi se eerste vrou was Fathia Khaled, ʼn onderwyser, en hulle het ʼn seun gehad, Mohamed. Hulle is geskei kort nadat Gaddafi die mag oorgeneem het in Libië. Hy is later met Safia Farkash, ʼn verpleegster, getroud en hulle het sewe kinders gehad. Gaddafi het ook twee kinders aangeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.