Gauteng spandeer glo R6 miljoen op twee begrafnisse

Twee amptelike begrafnisdienste het die Gautengse regering nagenoeg R6 miljoen uit die sak gejaag, beweer die DA.

“Die DA keur in beginsel die besluit goed om status te verleen aan die begrafnisdienste van die twee individue, maar dit is moeilik om die buitensporige kostes daarvan te regverdig,” het die DA se woordvoerder, Mike Moriarty, gesê. Die begrafnisdienste was onderskeidelik vir Henry Mokgothi in April verlede jaar en Bertha Gxowa in Oktober 2010. Gauteng se woordvoerder, Matlakala Motloung, sê die presidensie neem besluite rakende amptelike begrafnisdienste. “Hierdie is individue wat bygedra het tot die vryhede wat ons vandag geniet….persone van nasionale statuur. Hulle bydrae kan nie in geldwaardes bereken word nie.” Moriarty sê hy het intussen aan die provinsie se premier, Nomvula Mokonyane, geskryf om te vra wat die riglyne is vir die toekenning van fondse vir amptelike begrafnisdienste. “Volgens Mokonyane is die geld betaal vir amptelike provinsiale begrafnisdienste…en het dit kostes ingesluit wat verband hou met spyseniering, huur en busse.” Die premier se kantoor kon egter nie meer besonderhede rakende die kostes verskaf nie. Motloung sê egter daar is maatreëls in plek ten einde te verseker dat die kostes vir amptelike begrafnisdienste nie redelike perke oorskry nie.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.