Gauteng tolstelsel is “hier om te bly”

Die tolstelsel op Gautengse hoofweë is hier om te bly, is ʼn wet en die regering sal geen ongehoorsaamheid duld nie.

Die regering se woordvoerder, Jimmy Manyi, het Donderdag ʼn beroep gedoen op motoriste om e-skyfies te koop aangesien dit sal beteken dat hulle afslag kan kry. “Hierdie is nie net ʼn nagmerrie nie; dis ʼn werklikheid, dit gaan gebeur. Niemand moet onder die indruk wees dat dit net gaan weggaan nie. Dit is hier om te bly en dit gaan gebeur. So wetsgehoorsame burgers gaan koop julle e-skyfies. Die tolstelsel is oppad.” Manyi het die media toegespreek in Kaapstad na afloop van Woensdag se kabinetsvergadering. Mayni het ook ʼn waarskuwing gehad vir diegene wat dit oorweeg om die “tolwette” te breek. “Indien jy nie die wet gaan nakom nie, sal die reg sy gang neem. Punt. Ek wil hê dit moet baie duidelik wees.” Manyi sê die fiskus kan nie langer “die las dra” van hoofwegverbeteringe nie. “Die gebruiker-betaler beginsel is bevestig. Laat dit baie duidelik wees dat ons voortgaan en dat die tolstelsel hier is om te bly. Die kabinet is ferm. Daar sal ʼn tolstelsel wees. Daar sal wetgewing in plek wees om seker te maak oortreders word vasgevat.”

Manyi het vroeër meer besonderhede verskaf rakende die tariewe vir die tolstelsel. Bestuurders van motorfietse en ligte voertuie sal nie meer as R550 per maand vir tolgeld betaal nie. Daar sal ook afslag gegee word vir sekere tye van die dag vir swaarvoertuie wat volgens Manyi verligting sal bring vir die vervoerindustrie. Taxi’s, busse en ander middels van openbare vervoer sal nie tolgeld betaal nie.

Met ʼn e-skyfie:

Motorfietse: 20c/km
Ligte voertuie: 30c/km
Vragmotor sonder vrag: 75c/km
Vragmotor met vrag: R1,51/km

Sonder ʼn e-skyfie:

Motorfietse: 38c/km
Ligte voertuie: 58c/km
Vragmotor sonder vrag: R1,45/km
Vragmotor met vrag: R2,90/km

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.