Gautengers op Karbonkelberg-staproete gered

Skymed-helikopter Foto: NSRI

Skymed-helikopter Foto: NSRI

Twee broers en ʼn vrou van Meyerton in Gauteng is Donderdag met ʼn helikopter gered nadat hulle op ʼn staproete tussen Houtbaai en Sandybaai gestrand geraak het, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê.

“Die NSRI Houtbaai is Donderdag om 16:55 ontbied om die nooddienste van die Wes-Kaapse departement van gesondheid in hul reddingspoging by te staan,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, gesê. “Kobus Brits (36), sy vriendin Cornelia Janse van Rensburg (38) en Kobus se broer, Morné Brits (33) het op die Karbonkelberg-staproete gestrand geraak.”

Die drie het glo omstreeks 13:00 van Houtbaai af begin stap, maar sonder enige stapvoorraad soos water, kos of warm klere. “Hulle het die moeilikheidsgraad van die staproete misgis en was nie voorbereid op die veranderende weerstoestande of gety nie,” het Lambinon gesê.

Die drie het glo aan die NRI gesê hulle het die eerste voor oorgesteek toe die gety ingekom het, maar hulle kon nie die tweede voor oorsteek toe dit hooggety is nie. Hulle kon nie vorentoe of agtertoe nie en het besluit om die berg uit te klim totdat hulle nie meer verder kon nie. Hulle het toe hulp ontbied.

Die Skymed-helikopter is ontbied en NSRI Houtbaai en nooddienste van die departement het die reddingspoging ondersteun. “NSRI Houtbaai het ʼn seereddingsvaartuig na die toneel ontplooi om op die water as ʼn uitkykpunt te dien. Dit sou ook as alternatiewe ondersteuning kon dien indien die helikopter-reddingspoging nie suksesvol is nie, weens die slegte weer en swak lig.”

Volgens Lambinon het die NSRI ook ʼn veilige landingsone vir die helikopter langs die seereddingsbasis voorberei en dié stasie is ook as basis vir die reddingspoging gebruik.

Die Skymed-helikopter het ʼn paramedikus na die stappers se posisie, op ʼn lysie ongeveer 90 meter bo seevlak, laat afsak. Die eerste twee stappers is na die helikopter opgehys en is na die NSRI-reddingsbasis geneem. Die oorblywende stapper en reddingsparamedikus is daarna ook opgehys en na die reddingsbasis geneem.

“Hul familielede het by die seereddingstasie vir hulle staan en wag en die stappers het nie enige verdere behandeling benodig nie.”

Die NSRI doen ‘n beroep op stappers om die roete en benodigdhede vir die roete eers vooraf te ondersoek voordat hulle enige staproetes aan die kus onderneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.