Gautrain-busbestuurders gaan moontlik staak

Die Gautrain-busdiens mag moontlik Maandag in sommige dele van Gauteng onderbreek word weens ʼn dreigende staking deur die bestuurders, het die Bombela Concession Maatskappy gesê.

“Die bestuurders eis dat MegaExpress-busmaatskappy ʼn vervoerdiens aan hulle moet verskaf wat hulle daagliks van hul huise na hul werksplek kan vervoer, het woordvoerder Kelebogile Machaka gesê. “Tans gaan die busdiens normaalweg voort, alhoewel die bestuurders vanoggend 30 minute laat vir diens aangemeld het.” Volgens Machaka is die busmaatskappy tans in onderhandelings besig met die werknemersverteenwoordigers om die geskil op te los. Machaka sê daar kan dalk vanaf 18:00 onderbrekings in die busdiens wees wanneer die bestuurders na verwagting met die staking sal begin. Gebiede wat moontlik hierdeur geraak sal word sluit Fourways, Randburg, Pretoria middestad en Brooklyn in. ʼn Gebeurlikheidsplan is reeds beraam om die invloed van die staking so ver as moontlik te minimaliseer, het Machaka gesê. “Ons vra om verskoning vir die ongerief wat die staking moontlik mag veroorsaak,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.