Gautrain gaan lughawe-passasiers nie vergoed nie

Gautrain-bestuur het gesê passasiers wat Donderdagoggend hul vlugte, weens ‘n onderbreking in die treindiens, gemis het, sal nie vergoed word nie.

Errol Braithwaite, woordvoerder van Gautrain, het passasiers aangeraai om op die SMS-kennisgewings in te teken, berig EWN. “Ons kan nie verantwoordelik gehou word vir verliese wat enigiemand gely het nie,” het Braithwaite gesê. Talle reisigers was gefrustreerd en kwaad nadat hulle hul plaaslike en internasionale vlugte gemis het.

Een man het beweer die vertraging het hom en ‘n mede-passasier ten minste R6 000 gekos. Hy sê hy sal nooit weer van die Gautrain gebruik maak nie. Die man kan nou eers Vrydag na Zambië vlieg en het nou ‘n paar belangrike vergaderings gemis.

Hy is een van verskeie passasiers wat ‘n ompad deur Kemptonpark moes neem, aangesien die Gautrain-busbestuurder nie geweet het hoe om van Sandton na die Rhodesfield-stasie te ry nie. Die Rhodesfield-stasie is die naaste aan die lughawe.

Probleme is by die Marlboro- en Sandton-stasies ondervind wat verskeie ander stasies beïnvloed het. Pendelaars het vir langer as ‘n uur gewag.

Dit blyk dat die Marlboro-stasie ‘n kragvoorsieningsprobleem ontwikkel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.