Gautrain-slang gevang

Argieffoto: sareptiles.co.za

Argieffoto: sareptiles.co.za

Die een meter lange rinkhals wat ʼn Gautrain-pendelaar só op hol gehad het dat hy vir ʼn paar dae lank nie sy motor van die Gautrain-stasie in Midrand wou verwyder nie, is gevang.

Die pendelaar, Brian Mabasa, het Dinsdag aan Sapa gesê die voorval was vir hom ʼn “nagmerrie”.

Maroela Media het Vrydag berig toe Mabasa Dinsdag ná werk in die parkeerterrein aankom, het sekuriteitsbeamptes om sy BMW saamgedrom. Veiligheidswagte het vroeër slang onder sy motor sien inseil. André Prins, ʼn slanghanteerder, is ontbied en het die aand omstreeks 20:00 tou opgegooi. “Die slang was diep in die motor se onderstel versteek,” het Prins gesê.

Prins het later in die week gesê dit is “hoogs waarskynlik” dat die slang reeds die motor verlaat het, maar het dit duidelik gestel dat dit nie “definitief” is nie.

Die motor is later in die son parkeer sodat die slang hopelik weens die hitte sy skuilplek sou verlaat. Nog drie slanghanteerders is ontbied, maar hulle het tevergeefs gesoek.

Mabasa het Vrydag sy motor huis toe bestuur. “Ek was nie regtig bang nie, want ek was vol vertroue dat die slang nie in die motor se passasiersruim kon kom nie,” het Mabasa gesê. Nog ʼn slanghanteerder het ʼn halfuur lank die motor deursoek, maar kon ook niks kry nie.

“Ek is huis toe en het in die motorhuis parkeer. Ek was bang dat die slang sou uitkom en na my of my bure se eiendom sou ontsnap. Ek het net gebid dat ek dit deur die volgende dag sou maak.”

Mabasa het Saterdagoggend die slang se kop tussen die voertuig se enjinkap en regterhooflig sien uitsteek. Hy het dadelik die slanghanteerder na sy huis ontbied. Sy voertuig se modderskerms moes verwyder word om die rinkhals te vang.

Hy sê daar was ʼn paar spanningsvolle oomblikke voordat die rinkhals uiteindelik verwyder is. Die slanghanteerder het met handskoene die slang gevang. “Hy is ʼn kenner,” het Mabasa gesê. Hy is baie verlig dat dié nagmerrie nou iets van die verlede is.-SAPA

Lees ook:
Slang maak Gautrain-verbruiker bang

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.