Gearresteerde betogers in Noordwes op borgtog vrygelaat

Betogings in Noordwes ruk hand-uitDie 58 mense wat sedert Maandag in gewelddadige protesoptrede in landelike gebiede in Noordwes in hegtenis geneem is, is almal op R500 borgtog vrygelaat. Hulle moet weer op 28 Junie in die hof verskyn.

Brigadier Thulane Ngubane het Woensdag gesê 34 mans en 24 vroue is in hegtenis geneem tydens hul protesoptrede teen die toestand van paaie in die omgewing. Hulle staar aanklagte van openbare geweld, saakbeskadiging en diefstal in die gesig.

“Dit blyk dat die gemeenskappe wat onder die Kagisano Molopo Distriksmunisipaliteit val, ʼn teerpad wil hê wat die onderskeie nedersettings in die omgewing met Ganyesa verbind,” het Ngubane gesê. Dié teerpad is na bewering al vier jaar gelede aan die inwoners belowe.

Leerlinge van laer- en hoërskole in die omgewing is Woensdagoggend gedwing om aan die protesoptrede deel te neem.
“ʼn Drankwinkel in die Southey-nedersetting, ʼn klaskamer by die Ramadile laerskool in die Tlapeng-nedersetting en ʼn ou plaaslike kliniekgebou in die Elias-nedersetting is deur betogers aan die brand gesteek,” het hy vervolg.
Winkels wat aan buitelanders behoort, is ook beroof en gevandaliseer.

ʼn Swanger vrou is Dinsdag in Southey dood toe ʼn ambulans nie verby die padversperrings in die dorp kon kom nie. Volgens Ngubane het betogers die ambulans gedwing om terug te draai.

“Die polisie het vandag gepoog om die situasie onder beheer te kry nadat inwoners van Dipodi en ander nedersettings begin het om motors wat verbyry, met klippe te bestook en weivelde in die omgewing aan die brand te steek.”

Die polisie hou die situasie dop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.