Gebaretaaltolk: NVG kry nie hofdokumente nie

Thamsanqa (Thami) Jantjie Foto: Alon Skuy, SAPA

Thamsanqa (Thami) Jantjie Foto: Alon Skuy, SAPA

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Vrydag gesê daar is tans geen hofdokumente beskikbaar oor ʼn moordsaak waarby die “bedrieglike” gebaretaaltolk van Nelson Mandela se gedenkdiens betrek word nie.

“Ek kan nie bevestig dat die persoon aangekla is nie, maar ek kan dit ook nie ontken nie,” het Nathi Mncube, woordvoerder vir die NVG, gesê. “Daar is tans geen dokumente nie.”

Mncube het reageer nadat eNCA-nuus berig het dat Thamsanqa Jantjie betrokke was in ʼn moordsaak, skuldig bevind is aan diefstal en aangekla is van verskeie ander misdade oor die afgelope paar jaar.

Jantjie was glo een van drie mans wat betrokke was in ʼn saak van moord, poging tot moord en ontvoering in 2003. Dié saak is in 2004 na die Johannesburgse hooggeregshof verwys en in November 2006 gefinaliseer. Die uitslag is egter onbekend, aangesien die betrokke lêer glo leeg is.

Volgens Mncube het eNCA die NVG van ʼn polisiesaaknommer verskaf, maar pogings om die dokument op te spoor was tot dusver onsuksesvol. Hy sê dit “kan ʼn wyle duur” om ʼn saak uit 2006 op te spoor.

eNCA het deur hof- en polisiedokumente bevestig dat Jantjie in 1995 skuldig bevind is aan diefstal en is glo ‘n vonnis van drie jaar opgelê. Hy is in Julie 1997 aangekla van huisbraak en opsetlike saakbeskadiging in 1998. Hy is in September 1994 aangekla van verkragting, maar is vrygespreek.

Jantjie was Dinsdag tydens oud-president Mandela se gedenkdiens by die ENB-stadion in Johannesburg ʼn paar meter van pres. Jacob Zuma, pres. Barack Obama van Amerika, pres. Raul Castro van Kuba en Mandela se weduwee, Graca Machel.

Collins Chabane, minister in die presidensie, het Woensdag gesê bewerings oor Jantjie se bekwaamheid om gebare taal te tolk sal ondersoek word.

Jantjie het ná die gedenkdiens aan verskeie media gesê hy ontvang behandeling vir skisofrenie en het tydens die gedenkdiens ʼn episode gehad waar hy engele gesien het en dat hy paniekerig geraak het toe hy deur gewapende polisiebeamptes omring was.

Lees ook:
Mandela-diens: Gebaretaaltolk aangekla van moord
Regering “nie verleë” oor gebaretaaltolk
Gedenkdiens-tolk beweer hy is skisofrenies
Mandela-diens: Tolk was ‘n “bedrieër”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarie van Niekerk ·

Is alle hof- en polisiedokumente nie deesdae op rekenaar nie? Hoe is dit moontlik dat misdaadrekords nog so maklik net eenvoudig verdwyn?

Erich Goosen ·

Ek is nie ‘n aanhangel van die Samesweringsteorie nie maar wonder nietemin hoekom hierdie belangrike hofdokumente sommer so skielik sou wegraak. Die NVG is benewens hul alombekende onbevoegdheid ook uiters polities gedienstig en die vermiste hofrekords kan Jeff Radebe dalk heelwat verleentheid spaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.