Gebou laat karre smelt

Die sogenaamde "Walkie Talkie"-gebou in Londen

Die sogenaamde “Walkie Talkie”-gebou in Londen

Skakels na foto’s van die skade volg onderaan die berig. ‘n Britse eiendomsontwikkelaar het Dinsdag gesê hy sal ondersoek instel nadat sonstrale, wat van sy halfgeboude wolkekrabber in Londen af skyn, verskeie dele van motors, insluitend ‘n luukse Jaguar-motor, gesmelt het.

Inwoners van Londen moet hul oë beskerm teen die verblindende glans wat van die gebou, in Fenchurchstraat 20, af skyn. Die gebou is die “Walkie Talkie” (tweerigtingradio) gedoop weens die uitgeboude vorm.

Sommige motoriste het gekla dat die strale glo dele van hul voertuie gesmelt het.

Plaaslike sakeman Martin Lindsay het gesê hy was ontsteld om te sien dat sy Jaguar XJ-motor se panele aan een kant gebuig het. Hy het sy motor naby dié blink toring in Londen se finansiële distrik parkeer. Die kantspieëltjie en Jaguar-embleem voor op die motor het gesmelt. “Op die windskerm was daar ‘n briefie van die konstruksiemaatskappy wat my in kennis gestel het dat die motor se panele gebuig het en dat ek met hulle in verbinding moet tree,” het Lindsay aan die BBC gesê. Hy kon glo nie die omvang van die skade glo nie.

Daar word nou grappenderwys na dié gebou as die “Walkie Scorchie” verwys en ander mense noem dit ‘n “fryscraper” (in plaas van “skyscraper”, die Engels vir wolkekrabber).

‘n Verslaggewer het Dinsdag ‘n eier gebraai deur dit net in ‘n braaipan en in direkte sonlig naby die gebou te hou.

Land Securities and Canary Wharf Group, die ontwikkelaars, het om verskoning gevra aan Lindsay en die skade aan sy Jaguar betaal. Drie parkeerplekke naby die gebou mag nou nie meer gebruik word nie.

Plaaslike winkeleienaars sê die sogenaamde “doodstraal” beskadig hul verfwerk, brand gate in deurmatjies en laat hul teëls kraak.

“Ons beskou die kwessie in ‘n baie ernstige lig, en sal dit as ‘n prioriteit hanteer,” het die ontwikkelaars in ‘n verklaring gesê. Hulle oorweeg tans “langtermyn-oplossings” terwyl hulle intussen in konsultasie met plaaslike besighede die probleem sal aanspreek.

Fisici het voorgestel dat die konkaaf-vorm van die gebou verantwoordelik is vir die probleem en ‘n sonstraal in ‘n gekonsentreerde straal laat skyn. The Times-koerant het gesê dat temperature naby die gebou Maandag meer as 45 grade Celsius bereik het. Die ontwikkelaars sê die verskynsel word veroorsaak deur die “huidige elevasie van die son in die lug” en dat die probleem behoort te verdwyn sodra Londen die Herfsseisoen binnegaan. “Dit duur tans ongeveer twee ure lank per dag en sal ongeveer twee tot drie weke lank voortduur.”

Die 37-verdiepinggebou sal na verwagting in Maart 2014 klaar gebou wees.

Klik hier en hier om nog foto’s te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jasper ·

As daardie blink spieëls nou sonpale was, kon die gebou aan sy eie krag voorsien.

JAVR ·

Nou kan die Engelse mos “at last” ook bietjie “suntan” op die natuurlike manier! Mens kan dit amper nie glo nie nê.
Jasper dis nie spieëls nie, dis die glas wat dit in een GROOT vergrootglas verander!

Gunter ·

Ek dink nou juis ook soos Jasper.
As ‘n mens sonpanele aan die kant sit waar die weerkaatsing mees gekonsentreerd is, kan die algemene opbrengs dalk verhoog word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.