Gebruik van helikopter na Potch is “wanbesteding”

Argieffoto van ‘n Puma-helikopter van die SA Lugmag

Die DA het Dinsdag gesê die gebruik van ʼn lugmag-helikopter deur die minister van verdediging om ʼn memorandum in Tlokwe, Noordwes te ontvang, is ʼn misbruik van staatsgeld.

“Die Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerlike Organisasie en die ANC het Vrydag geëis dat ʼn memorandum, wat vereis dat stappe teen die voormalige burgemeester van Tlokwe, Maphetle Maphetle, gedoen moet word, aan pres. Jacob Zuma oorhandig moet word,” het David Maynier, LP vir die DA, gesê. “Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, is egter in sy plek gestuur en sy het met ʼn lugmag-helikopter in Tlokwe opgedaag.”

Hy sê die besoek hou verband met die ANC en nie die regering nie. “Die besoek was spesifiek om die ANC se onmin te hanteer en hou nie verband met die departement van verdediging nie,” het Maynier gesê. “Die minister se gebruik van ʼn militêre helikopter vir ʼn party-politieke vergadering is ʼn misbruik van staatshulpbronne. Dit is ook teenstrydig met die ministeriële handboek.”

Sonwabo Mbananga, woordvoerder vir Mapisa-Nqakula, sê bewerings dat die besoek met ANC-sake verband hou, is “ongegrond”. “Die president kan te eniger tyd ʼn lid van die kabinet versoek om ʼn vergadering by te woon wat nie direk verband hou met hul posbeskrywing nie, solank dit verband hou met regeringskwessies,” het Mbananga gesê. “Die minister het nie as ʼn ANC-lid die vergadering bygewoon nie. Sy is deur die president versoek. Dit het nie oor die ANC gehandel nie, dit was oor die vermoë van die regering om daar te funksioneer.”

Mbananga sê die minister het die helikopter gebruik om so gou as moontlik in Tlokwe aan te kom, aangesien die situasie “plofbaar” was.

Maynier sê die DA wil weet of die vlug deur die sekretaris van verdediging goedgekeur is, wat die totale koste van die vlug was en of die lugmag vantevore gebruik is vir “party-politieke vergaderings”. “Die minister moenie die SA Lugmag as die ANC se eie lug-taxidiens gebruik nie.”

Die ANC het verlede Donderdag gesê Maphetle bly die burgemeester van Tlokwe (Potchefstroom), ondanks die feit dat hy tydens ʼn “onwettige” raadsvergadering ontsetel is. Die ANC het ʼn aansoek by die Pretoriase hooggeregshof ingedien om die vergadering onwettig te verklaar. Geen hofdatum is intussen vasgestel nie.

DA-raadslid Annette Combrink is op 2 Julie vir die tweede keer sedert November as burgemeester tot die munisipaliteit verkies.

Lees ook:
ANC in Noordwes stem nóg ‘n raadslid uit
Potch-raadslede met hofdokumente bedien
Video: Oud-Potch-burgemeester weier om te ontruim
ANC skors Tlokwe-raadslede
Oud-burgemeester weier glo om kantoor te verlaat
Voormalige Tlokwe-burgemeester gereed om terug te veg
DA weer in beheer in Potch
DA verloor Tlokwe-burgemeesterspos
Noordwes kry eerste DA-burgemeester

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarie van Niekerk ·

Ek stem saam met die DA hier, hierdie besoek het klaarblyklik gegaan oor die uitgeskopte burgemeester wat soos ‘n neut aan ‘n wolkombers klou aan sy amp as burgemeester en het niks met die bestuur van die land te doen nie. Die ANC het nog nie geleer waar word die streep getrek tussen regering en party nie, dit is net te gerieflik om vinnig op ‘n lugmag helikopter te spring en daarmee rond te vlieg. Die weermag vlieeniers se vliegure word ingekort, die vliegtuie en helikopters staan op die grond omdat daar nie geld is om dit te vlieg nie, maar die minister kan Potchefstroom toe vlieg met ‘n weermag helikopter om ‘n versoekskrif te gaan haal oor die bedrog wat deur die uitgeskopte burgemeester gepleeg is. Waar kom die bestuur van die land hier in?

Paul ·

Dis “klou soos ‘n neet”, nie ‘n “neut” nie. ‘n Neet is die eier van ‘n luis, en nete klou dus aan hare, nie aan wolkomberse nie. Die soortgelyke uitdrukking wat met wolkomberse te doen het, is bietjie skurf om hier te gebruik.

Kaspaas ·

Liewe Heksie het ook niks van kelihopters of meulikopters gehou nie – die goed saai net onmin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.