Gedenkdiens dán vir Pedrie Wannenburg beplan

Pedrie Wannenburg. (Foto: Facebook)

Die voormalige Springbokrugbyspeler Pedrie Wannenburg se geliefdes en aanhangers van regoor die wêreld sal hom op Woensdag 11 Mei in die VSA groet.

Wannenburg (41) is ʼn week gelede in ʼn motorongeluk in die Amerikaanse deelstaat Texas dood. Sy vrou, Evette, en hul twee jong kinders was saam met hom in die motor ten tyde van die ongeluk.

Callie Wannenburg, Pedrie se broer, sê uit die VSA die familie se emosies het gister hoog geloop, ʼn week ná die noodlottige ongeluk.

“Almal se emosies is maar op en af, maar dit help ook dat die familie nou almal bymekaar is,” sê hy.

Callie en sy vrou het vroeër vandeesweek na die VSA gereis om Evette en die egpaar se kinders, Isabelle (10) en Francois (8), by te staan. Pedrie se ouers, asook Evette se sibbe het reeds by die familie aangesluit.

Hoewel Evette en Isabel relatief ongedeerd van die ongeluk afgekom het, is Francois in die hospitaal opgeneem met ernstige beserings.

Dié klein vasbyter is egter reeds uit die hospitaal ontslaan en is sterk op pad om volkome te herstel.

“Dit gaan so goed met hom. Hy is vreeslik besig en dit is omtrent ʼn stryd om hom te kry om stil te sit. Hy wil net heeltyd speel,” sê Callie.

“Ons is wel so dankbaar daaroor en dat hy hier voor ons sit. Wanneer hy rondstap besef ons opnuut watter wonderwerke verrig is.”

Die familie is gister na een van die wedstryde van die bofbalspan wat Pedrie afgerig het en Francois het daar die geleentheid gekry om die eerste bal van die wedstryd te gooi.

“Onder die omstandighede gaan dit goed met almal,” sê Callie.

Pedrie se geliefdes gaan om 11:00 (Houston-tyd) ʼn gedenkdiens vir hom hou en die verrigtinge virtueel beskikbaar maak.

Suid-Afrikaners kan dié diens Woensdag om 18:00 aanlyn volg.

“Ons kom ná die gedenkdiens weer terug huis toe [na Suid-Afrika], maar die res van die familie gaan ʼn bietjie langer bly,” sê Callie.

“Ons is net dankbaar vir die ondersteuning wat Evette-hulle, buiten die familie, hier het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.