Gedenkdiens vier Aleit Swanepoel se lewe

Aleit Swanepoel. (Foto: Aleit Swanepoel/Facebook)

Die TV-persoonlikheid, omroeper en groepshoof van die Aleit-groep, Aleit Swanepoel, is Dinsdag tydens ’n gedenkdiens deur sy familie, vriende en kollegas gegroet.

Die afskeidsdiens, wat in Somerset-Wes plaasgevind het, was gevul met kosbare hoendervleisoomblikke.

“Ons Hemelse Vader het een van sy mooiste blomme kom haal,” het Lorette Muller, Swanepoel se suster, se huldeblyk aan hom gelui.

Die nuus van Swanepoel se afsterwe is met ’n mediaverklaring op Facebook- en Instagram-plasing op Maandag 16 Mei bekendgemaak. Die Aleit-groep het later die oorsaak van Swanepoel se dood, ’n miokardiale infarksie, aan Maroela Media bevestig.

Sowat 1 500 mense het ingeskakel om die aanlyn weergawe van Swanepoel se diens by te woon.

Lofprysingsliedere soos “How great is our God”, “Amazing Grace” en die bekende “Soos ’n wildsbok” is tydens die diens gesing.

’n Boodskap uit Romeine 8 is gedeel.

“Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

Muller het Swanepoel se ouers se huldeblykboodskappe gedeel.

“Ek is so lief vir jou. Mamma weet jy is in die hemel. Jy het my altyd so mooi gekomplimenteer. Jy was ’n goeie pappa wat lief was vir Katie.”

(Foto: Aleit Swanepoel/Facebook)

Sy pa, ook genaamd Aleit Swanepoel, het die volgende boodskap oor Swanepoel gedeel: “Seun, jy was ’n geliefde kind. Geen uitdaging was vir jou te groot nie. Jy het waarlik ’n invloed op Jan Alleman gehad. Ons groet en salueer jou, jy leef voort in ons harte.”

Swanepoel se sakevennoot en vriend, Hans Roosenschoon, het ook agter die mikrofoon ingeskuif om ’n huldeblyk aan hom te lewer.

“Hy was so trots op die feit dat hy sy eie faksmasjien gehad het,” het Roosenschoon skertsend vertel oor Swanepoel se opgewondenheid oor die woonstel waarheen hy jare terug getrek het.

“Die eerste foto’s vir die onderneming is op die koffietafel van daardie einste woonstel geneem,” het hy nostalgies vertel.

Roosenschoon het opgemerk dat hy en Swanepoel talle dinge gemeen gehad het, onder meer dat albei geboelie is tydens hul skooljare en dat albei ’n sterk entrepreneursgees gehad het.

“Sy gees en uitbundige lag sal ons altyd op ons tone hou om hom trots te maak.”

Hy het sy huldeblyk afgesluit deur die gaste by die gedenkdiens uit te nooi om op te staan en vir Swanepoel ’n dawerende applous te gee.

“Aleit, ons salueer jou!”

Lindi Erasmus, die mediakoördineerder van die Aleit-groep, het aan Maroela Media vertel dat vriende, familie en kollegas sy lewe ná afloop van die diens verder saamgevier het.

“Daar was ’n ongelooflike mooi feesviering van sy lewe op Lourensford. Saam met die klein basaartoebroodjies, gevulde eiers en ander van Aleit se gunstelingkos wat mens op sy gunstelingmanier, met die hand, kon eet, was sy gunsteling-jazz-groep, Gary Deacon and Friends, ook daar om musiek te maak terwyl almal saam aan hom hulde gebring het.”

Erasmus verduidelik dat dié groep Swanepoel na aan die hart gelê het, aangesien Deacon nie net by die eerste troue wat hy gereël het, gespeel het nie, maar ook by Swanepoel se eie troue ’n paar jaar later.

“Almal was uitgevat. Die kleredragkode was ’n “Touch of Aleit”. Daar was oral blommetjie-aansteekspelde op baadjies en niemand het swart skoene met bruin belde gedra nie. Die braaivleisvuur het gebrand, nes hy sou wou gehad het, en almal het tot laatmiddag hul gunstelingstories oor hom gedeel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fae Fubar ·

Wat ‘n wonderlike manier om ‘n unieke lewe te vier. Rus in vrede, Aleit met die sonskynlag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.