Gedenkdiens vir kunstenaar se vrou, dogter

Piet Grobler. Foto: Facebook

ʼn Gedenkdiens vir die kunstenaar Piet Grobler se vrou en dogtertjie sal Saterdag in Centurion plaasvind.

Marie en Catherina (10) is Dinsdag in ʼn ongeluk op die R21 naby die Olifantsfontein-afrit dood nadat ʼn bakkie teen hul motor gebots het. Piet se broer Diek het die gesin na die OR Tambo-lughawe geneem toe die motor blykbaar onklaar geraak en langs die pad gaan staan het. ʼn Bakkie het glo van agter in hul motor gebots en Marie en Catherina, wat agter in die motor gesit het, is ernstig beseer. Hulle is per helikopter na die Charlotte Maxeke-hospitaal geneem maar het kort na hul aankoms aan hul beserings beswyk. Reint Dykema, ʼn neef, sê die gedenkdiens vind Saterdag om 11:00 vanuit die Nederduits Hervormde Kerk in Lyttelton plaas. Dykema sê Piet is intussen uit die hospitaal ontslaan. “Hy verduur nog baie pyn. Hy het vandag (gister) weer die dokters gesien. Hy sterk by vriende aan. Piet versoek rustigheid en sal later kontak maak met almal wat meegevoel betuig het.” Dykema sê Diek is steeds in die hoësorg-eenheid in die Pretoria Oos-hospitaal. “Die dokter het versoek dat net naby familie hom besoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.