Passasiers sal binnekort weer by Lanseria en OR Tambo-lughawens vir geelkoors gekontrolleer word.
Jack Bloom, woordvoerder vir gesondheid vir die Demokratiese Alliansie (DA) het Maandag in ‘n verklaring gesê dat dié twee lughawens versuim om kontrole te hou. Volgens Bloom misluk die departement van gesondheid in Gauteng daarin om sy inwoners teen eksotiese siektes, wat deur reisigers gedra word, te beskerm. “Ons kan talle ernstige siektes invoer weens ‘n tekort aan beheer by dié lughawens, veral oor naweke,” het Bloom gesê.
Die kontrole is blykbaar gestaak toe personeel van die departement van gesondheid, wat dit moes uitvoer, geweier het om te werk. Die betrokke werknemers beweer dat hulle nie oortydbetaling of nagdienstoelaes ontvang het nie.
Volgens die department het hy nou geld beskikbaar gestel om die situasie op te klaar en gaan hulle ook ‘n skofsisteem in plek stel om te verseker dat die probleem nie herhaal nie.
“Die departement verseker die gemeenskap dat hierdie saak binnekort uitgeklaar sal word en vra groot om verskoning vir enige ongerief wat tydens die arbeidsdispuut veroorsaak is,” het die departement in ‘n verklaring gesê.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is geelkoors ‘n virus wat gewoonlik deur muskiete oorgedra word. Sowat 30 000 mense sterf jaarliks aan geelkoors, hoofsaaklik in Afrika. Daar is nie spesifieke behandeling nie.