“Geen Afrikaans!” sê DKD; Solidariteit nader KVBA

Die vakbond Solidariteit het ʼn saak van onbillike diskriminasie namens Wynand Heyns, ʼn amptenaar in diens van die departement van korrektiewe dienste (DKD), na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys, nadat hy nie in aanmerking gekom het vir ʼn salarisaanpassing nie, omdat hy sy prestasiebeoordelingsdokumente in Afrikaans ingevul het.

Solidariteit eis dat Heyns die nodige salarisaanpassing ontvang en dat die DKD ʼn geldige taalbeleid in ooreenstemming met die Grondwet en Talewet in plek stel. Heyns werk by die Voorberg-gevangenis op Porterville in die Wes-Kaap. Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê Heyns het in Junie verlede jaar sy prestasiebeoordelingsdokumente ingedien, waarna hy skriftelik deur die departement versoek is om dit in Engels in te dien. Heyns het dit egter in Afrikaans gedoen en is in Oktober in kennis gestel dat hy nie in aanmerking kom vir ʼn salarisaanpassing nie, omdat sy dokumente nie in Engels was nie. “Heyns het in November ʼn interne grief ingedien en is in Januarie meegedeel dat dit onsuksesvol was en dat hy nog steeds die dokumente in Engels moet indien. Solidariteit het die saak namens Heyns opgeneem en eis dat hy ʼn salarisaanpassing ontvang. Die saak sal op 20 Junie by die KVBA aangehoor word.”

Groenewald sê Solidariteit versoek ook die DKD om ʼn geldige taalbeleid in te stel. “Die DKD se taalbeleid is ongrondwetlik, aangesien dit op grond van taal, en dus onregverdig, teen Heyns diskrimineer. Die Solidariteit Beweging het juis Vrydag kommentaar rakende die regulasies van die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale ingedien. Die regulasies stel nie voldoende beheermeganismes in plek om te verseker dat klagtes van die publiek effektief hanteer word en nie net bloot aangemeld word nie. Ons stel voor dat die regulasies meer spesifiek moet wees met betrekking tot strafmaatreëls in gevalle waar sperdatums vir die oplossing van klagtes nie nagekom word nie.”

Volgens Groenewald is die regulasies ook net in een van die 11 amptelike tale (Engels) gepubliseer, wat dui op die regering se gebrek aan toewyding om alle tale as gelyk te behandel en om openbare toegang tot regeringsdienste te bevorder. “Daar blyk ook die risiko te wees dat beleid wat deur ʼn nasionale departement, nasionale openbare entiteit of nasionale openbare onderneming op ʼn nasionale skaal ingestel word, taalbehoeftes op plaaslike vlak sal ondermyn. Dit is dus belangrik om op ʼn laer vlak voldoende ruimte te laat vir diskresie ten opsigte van die identifisering van drie amptelike tale vir amptelike doeleindes op verskillende vlakke van die regering.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.