Geen appèl vir rekenmeester

Garth le Roux (39), ‘n rekenmeester wat skuldig bevind is aan geldverduistering, se aansoek om verlof tot appèl teen sy vonnisoplegging is Donderdag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Bellville van die hand gewys.

Le Roux, ‘n getroude pa van twee, is verlede maand skuldig bevind aan 201 klagtes van bedrog van R894 689.

Landdros Sabrina Sonnenberg het hom vyf jaar tronkstraf opgelê op 158 aanklagte van bedrog en ‘n bykomende drie jaar vir ‘n verdere 43 aanklagte. Sy het beslis dat die vonnisse gelyktydig uitgedien word, wat beteken dat hy altesaam vyf jaar lank tronkstraf sal uitdien.

Le Roux het ‘n brief uit die tronk geskryf en aangevoer dat die vyf jaar tronkstraf te erg is en aansoek gedoen om verlof tot appèl.

Tydens Donderdag se hofverrigtinge het die landdros gesê sy het al die feite, in die stadium toe sy die vonnis opgelê het, oorweeg. Sy het met staatsaanklaer Derek Vogel saamgestem dat daar nie ‘n moontlikheid is om die vonnis te verminder ná appèl aangeteken is nie.

As rekenmeester het Le Roux verantwoordelikheid aanvaar vir Pepkor Clothing se daaglikse kleinkas van R19 000. Aangesien hy die enigste persoon was wat dié kontant in veilige bewaring gehou het, kon hy die stelsel vir eie gewin manipuleer. Een van dié metodes was om looneise uit die kleinkas te vervals. Hy het ook die bedrag reiskoste wat konsultante geëis het, verhoog en die oortollige uitbetaling vir homself gehou. Hy het ook kleinkaseise manipuleer sonder om stawende dokumentasie in te dien.

Arthur Meyer, finansiële bestuurder van Pep Clothing, het Le Roux as ‘n “vaardige rekenmeester” beskryf en het aan die hof gesê hoe beïndruk hy en ander bestuurslede was met die “streng manier” waarop Le Roux finansiële kwessies hanteer het. Meyer het gesê hy het nooit enige oneerlikheid van Le Roux vermoed nie, maar dat die bedrog eers aan die lig gekom het nadat die persoon wat die salarisse hanteer, aan hom genoem het dat sy besorg is oor Le Roux.
Hy het gesê die maatskappy wil Le Roux graag agter tralies sien, maar Sonnenberg het beslis dat die hof se besluit nie gebaseer kan word op die emosies van ander nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.