Geen bakterieë in formulemelk – verskaffer

Sekere 400g-blikke van Similac Alimentum word sedert verlede week herroep.

Geen bakterieë is in die babaformulemelk Similac Alimentum gevind wat verlede week wêreldwyd herroep is nie.

Die babamelk is herroep nadat klagtes in Amerika aangemeld is dat cronobacter- en salmonella-organismes in die betrokke formulemelk teenwoordig is.

Die verskaffer voer nou aan die nasionale verbruikerskommissie in Suid-Afrika se verklaring, wat bevestig het dat die bakterieë wel in die produk gevind is, foutief was en dat een soort bakterie eerder in die aanleg teenwoordig was.

Abbott Laboratories-Nutrition, wat onder meer Similac Alimentum vervaardig, sê die produk is herroep nadat vier verbruikers van die VSA aangemeld het dat hulle babas sekere simptome toon wat verband hou met hierdie bakterieë nadat hulle van die melk gedrink het.

“Monsters van die onderskeie formulemelkprodukte het egter negatief getoets vir hierdie soort [cronobacter] bakterie,” sê Sheila Ramufhufhi, woordvoerder van Abbott in Suid-Afrika.

“Die monster wat geneem is van die formulemelk het ook negatief getoets vir salmonella.”

Die formulemelk word by Abbott se aanleg in Sturgis, in die Amerikaanse deelstaat Michigan, vervaardig en na verskeie lande, ook Suid-Afrika, uitgevoer.

Geen soortgelyke gevalle is in Suid-Afrika aangemeld nie.

Thezi Mabuza, waarnemende kommissaris van die nasionale verbruikerskommissie, het vroeër gesê dat die verskaffer interne toetse gedoen het wat aangedui het dat cronobacter- en salmonella-organismes wel in die Similac Alimentum-produkte voorkom.

Ramufhufhi het egter aan Maroela Media gesê dat die verklaring wat Mabuza uitgereik het, foutief is en dat die teendeel eerder waar is.

“Geen produkte wat in die VSA en elders uitgevoer is, het positief getoets vir die teenwoordigheid van enige van die twee bakterieë nie,” sê sy.

“Ons sal wel voortgaan om die produkte te toets.”

Volgens Ramufhufhi doen Abbott uitgebreide gehaltekontroles op elke uitsending babaformulemelk, waaronder mikrobiologiese ontleding, voordat dit aan lede van die publiek verkoop word. Alle produkte word glo ook getoets vir cronobacter en salmonella en ʼn reeks ander patogene.

Abbott het ná die klagtes ʼn ondersoek van stapel gestuur om te bepaal of die bakterieë iewers in die vervaardiger se aanleg teenwoordig is.

“Die ondersoek het bevind dat daar wel cronobacter-organismes in gebiede van die aanleg is, maar die produkte kom nie in aanraking met daardie gebiede nie,” sê sy.

“Salmonella is nêrens in die aanleg opgespoor nie.”

Dit is nog nie duidelik wanneer Abbott die herroeping van sy produkte gaan opskort nie.

Ramufhufhi kon ook nie aan Maroela Media bevestig wanneer Similac Alimentum weer op die rakke sal verskyn nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Wie gaan vir die gissings betaal ?

Marius

Kry die babas jammer wat die kunsmatige gemors moet sluk….