Geen behandeling vir kankerpasiënte by staatshospitale

Sommige staatshospitale in Gauteng het glo nie meer kankermedikasie tot hul beskikking nie. Die organisasie Campaigning for Cancer beweer sowat 100 pasiënte in dié provinsie is kankerbehandeling geweier, berig EWN.

Veronica Hollman (64), ʼn longkankerpasiënt, beweer sy is al verskeie kere by staatshospitale weggewys. Sy sê hospitaalpersoneel het aangevoer daar is nie chemoterapiebehandeling beskikbaar nie.

Anthony Naledi, ʼn kolonkankerpasiënt, het ʼn soortgelyke ervaring gehad. “Hy is aangevra om ʼn spesifieke dag vir behandeling te gaan, maar toe hy opdaag was daar allerhande verskonings en is hy nie behandel nie,” het Naledi se broer gesê.

Volgens Lauren Pretorius, uitvoerende beampte van Campaigning for Cancer, is dit skadelik vir ʼn pasiënt se gesondheid wanneer behandeling uitgestel word. “Pasiënte kan sieker word of selfs doodgaan,” het sy gesê.

Staatshospitale in dié provinsie haal gereeld die nuus oor toerusting wat gebreek is, dat hulle nie hul diensverskaffers betaal nie, veiligheid by hospitale en ʼn tekort aan personeel en medikasie.

Die plaaslike regering het vroeg in Julie ʼn “omkeer”-strategie van stapel gestuur om dié tekortkominge aan te spreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.