Geen behoorlike besluit oor Wynland-tolprojek

Grafika: Sanral

Sanral se openbare kennisgewing oor die Wynland-tolprojek was glo onwettig, aangesien die nasionale padagentskap (Sanral) nooit ‘n behoorlike raadsbesluit oor die projek geneem het nie.

Geoff Budlender, vir die stad Kaapstad, het Vrydag aan die Wes-Kaapse hooggeregshof aangevoer dat Sanral die afwesigheid van dié besluit probeer versteek het, aangesien dit hulle saak ongeldig laat. Hy argumenteer tans in ‘n dringende interdik om Sanral te verhoed om met die N1/N2-Wynland-tolprojek voort te gaan totdat ‘n hof die projek se wettigheid bepaal het.

Die stad is op soek na ‘n hofbevel wat Sanral sal dwing om sekere dokumente te voorsien wat hy oor die besluitnemingsproses versoek het.

Regter Ashley Binns-Ward het gesê dat die hof en die stad nie weet watter bewyse Sanral in die hersieningsproses sal gebruik nie. Budlender sê dit is presies wat gebeur, aangesien Sanral dit nie wil bekendmaak nie. “Daar was nie ‘n raadsbesluit nie,” het Budlender gesê. “Sanral se verklaring in die Staatskoerant in 2008 was onwettig.”

Binns-Ward het gesê hy sal “iewers volgende week” ‘n besluit maak.

Die stad voer aan die besluitnemingsproses oor die tolprojek was nie volledig nie. Daar bestaan glo bewyse dat die minister van omgewingsake in daardie stadium die projek op sy omgewingsimpak goedgekeur het, maar nie die sosio-ekonomiese impak van die omliggende gemeenskappe in gedagte geneem het nie.

Die voorgestelde tolpad op die N1 strek in die weste van die R300-wisselaar tot by Sandhills. Die N2-gedeelte van die voorgestelde tolpad strek in die weste van die R300 tot by Botrivier. Volgens ‘n diagram op Sanral se webwerf sal 106km van die N1 en 70km van die N2 deur die projek geraak word indien dit sou voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.