“Geen foto’s van Nkandla nie”

Pres. Jacob Zuma Foto: GCIS/SAPA

Pres. Jacob Zuma Foto: GCIS/SAPA

Siyabonga Cwele, minister van staatsekuriteit, het die media Donderdag gewaarsku om nie meer foto’s of beeldmateriaal van pres. Jacob Zuma se huis in Nkandla, KwaZulu-Natal, te publiseer nie.

Hy sê dit is ʼn onaanvaarbare sekuriteitsbreuk onder die Wet op Nasionale Sleutelpunte en sal nie in enige demokrasie geduld word nie. “Dit is belangrik om ook ʼn waarskuwing uit te stuur dat ons wette het, waarvan sommige gewysig sal word. Maar die voortdurende publikasie van dié foto’s van ʼn plek wat deur die minister van polisie as ʼn nasionale sleutelpunt aangewys is, is ook nie reg nie. Dit is ʼn misdryf.”

“Kragtens die Wet op Nasionale Sleutelpunte mag niemand, insluitend die media, foto’s neem of publiseer waar moontlike sekuriteitsbreuke mag wees nie.”

Cwele sê hy rig ʼn versoek, maar die regering sal dit as ʼn misdryf beskou indien enigiemand dit ignoreer. “In hierdie stadium doen ons net ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse publiek. Dit word nêrens anders gedoen nie. Geen ander land het dit nie. Ons sien nie foto’s van die Wit Huis se sekuriteitsmaatreëls nie. Dit word nie in enige demokrasie in enige land gedoen nie. Kom ons respekteer die wette in dié stadium. Ons is nie veronderstel om dit te doen wat ons tans in die media sien nie.”

Intussen het die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) gesê die media sal steeds foto’s van opgraderingswerk by Nkandla publiseer. “Ons sal steeds die foto’s publiseer, omdat ons glo dat dit in die belang van die publiek is,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê.

Sanef sê die doel van die wet is om die sekuriteitsmaatreëls van nasionale sleutelpunte te beskerm en om dit nie bekend te maak nie. “In hierdie geval blyk dit ongelukkig of die ministers die sekuriteitswette gebruik om nie aanspreeklik gehou te word oor die Nkandla-opgraderings nie.”

Sanef sê die media bedoel nie om Zuma se sekuriteit te ondermyn deur die foto’s te publiseer nie. “Ons publiseer ook op ʼn daaglikse basis foto’s van ander nasionale sleutelpunte, soos die Uniegebou en die Parlement.”

“Daar moet altyd onthou word dat hierdie opgraderings aan pres. Zuma se privaatwoning gedoen is, waaruit hy en sy familie nog jare lank sal voordeel trek. Dit is nie staatseiendom nie.”

Die redakteurs sê die foto’s wat gepubliseer word, is van ver af of uit die lug geneem om die omvang van die opgraderingswerk aan die eiendom uit te wys.

Klik hier vir ‘n foto van die opgraderings by Nkandla deur grafika24.com. Die foto is van ver en uit die lug geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

HELENA SEABORNE ·

ag o please. die ou ding wil nie he die fotos mut in die media verskyn nie want hy is bang die kiesers sit 2 en 2 bymekaar as hulle na die gud kyk. sy blyplek met elke gerief waaraan jy kan dink en miljoene rande werd op die agtergrond en dan op die voorgrond die armmoede waarin die om hom leef. sonder lopende water en toiletgeriewe. die kontraste op die fotos vertel alles. vir huveel mense kon daar nie huise bebou word nie omdat die geld gebruik is om sy paleis van i plek te bou. huveel mense kon met daardie geld gevoed en geklee gewees het. pateties.

Demokraat ·

Daar was deurlopend nooit ‘n probleem met fotomateriaal wat vertoon is nie – die skielike ommekeer om dit nou te stop, is verbasend en onverklaarbaar. Dit het waarskynlik niks met veiligheidapekte te doen nie – maar dalk daarmee dat die ANC al meer sensitief is vir verdere publisiteit van die Nkandla dorp en dit dus wil demp met die verbod.

Die verslag van die OB moet nog bekend gemaak word en sal die klimaat teen die massiewe spandering deur die ANC-regering op hierdie luukse spogdorp van Zuma net nog meer teen die regering draai asook verdere kritiek ontlok.

stephanie ·

Om die foto nie te publiseeer is bietjie laat, as dit eers digitaal op web en ander media versprei is, is dit daar vir altyd en vir almal om op te roep… gaaan hulle nou Google Earth ook vra om nie fotos te wys? Regtig, die arrogansie gekoppel aan onkunde verstom my. Asook die redes hoekom die hut moes opgradeer na na 5 ster woning. Bang vir aardebewings, oorstromings en die hoe misdaad in die gebied noop hulle om die hoenders wat hul vet maak vir die kersete se hokke op te gradeer na n gebou waarvan n RDP huis eienaar net van kan droom. sies Zuma en sies vir die ANC… en al die mense wat aan die verslag gewerk het want dink ons is brode.

mariaan ·

En moenie vergeet om verkragting te verhoed ook as een van die redes is hoekom sekuriteit opgradeer is nie. Laat mens terugdink …. :-) :-)

mariaan ·

Hulle weet nie meer watter dreigemente om te gebruik om te verhoed dat die skandaal uitkom nie. En terloops, daar word na Nkandla verwys as Zuma se woning. Dit is sy eie privaat dorp, met ‘n kliniek, brandweer, snoepie, talle woonhuise, landingstrook en om die kroon te span, opgegradeerde padnetwerk. Dalk moet die ministers wat so dreig, vir ‘n slag self koerante lees om meer ingelig te wees, dan sal hule nie goed kwytraak soos dat geen ander land ter wereld toelaat dat daar fotos geneem word van “sleutelpunte” nie. Die hele wereld weet hoe lyk die withuis en daar is selfs begeleide toere vir die publiek. Hulle moes eerder meer sekuriteit by Waterkloof toegepas het en nie toegelaat het dat Zuma se vriende sommer net daar kom land nie. Zuma moet leer om onderskeid te tref tussen sy eie en die staat se geld. Die staat se geld behoort nie aan hom nie. Iemand moet dit mooi vir hom verduidelik.

Ben Visser ·

Ek wonder of Nkandla stortkoppe het? Vra maar net want ek is seker ek het ten minste vir een betaal

Ben Visser

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.