“Geen krisis by staatshospitaal” sê departement

Die Gautengse departement van gesondheid het Dinsdagmiddag in ʼn verklaring gesê daar is nie ʼn krisis by die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg nie.

Maroela Media het Dinsdag berig twaalf spesialiste van die hospitaal se narkotiese afdeling het glo Maandag bedank. Dit is na bewering die begin van ʼn massa uittog van spesialiste by dié hospitaal. Die bedankings kom te midde van ʼn voortdurende stryd van personeel wat glo sleg behandel word deur bestuurders, en nie hul oortydgeld betaal word nie. Lees meer hier.

Die DA het daarop reageer en sy kommer uitgespreek oor hoe die hospitaal van volgende maand af gaan funksioneer as die helfte van die afdeling se spesialiste nie meer daar is nie.

Simon Zwane, die departement se woordvoerder, het reageer dat die hospitaal 21 gevulde poste in die afdeling het. “Drie spesialiste het reeds hul poste verlaat, ses gaan aan die einde van Mei hul poste verlaat. Daar is 39 kliniese assistente waarvan die helfte van dié reeds senior kliniese assistente is. Daar is ook ses mediese beamptes,” het Zwane gesê.

Hy sê voorts dat 19 teaters daagliks in werking is.

“Daar is dus nie ʼn krisis by die hospitaal nie. Die hospitaal gaan binnekort nuwe personeel vir die vakante poste aanstel,” het Zwane bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.