Die Gift of the Givers het Donderdag gesê hulle het nog nie weer ʼn woord van Pierre Korkie se ontvoerders in Jemen gehoor nie.
“Dit is nou vyf dae ná die sperdatum en 17 dae sedert ons alle kommunikasie met Al-Kaïda verloor het,” het dr. Imtiaz Sooliman, hoof van die organisasie, in ʼn verklaring gesê.
Korkie en sy vrou Yolande is in Mei 2013 in Taiz ontvoer. Sy is sonder ʼn losprys vrygelaat en het op 13 Januarie in Suid-Afrika geland. Gift of the Givers was deel van die onderhandelingspan om Yolande se vrylating te verseker.
Sooliman sê sy organisasie het Woensdagaand weer ʼn video, waarin Yolande die ontvoerders om haar man se lewe pleit, na internasionale mediahuise versprei.
“Ons het nou, prakties, alles gedoen wat ons kon en nou moet ons net geduldig wag vir ʼn oproep wat ons weer met die groep in verbinding sal bring sodat ons die onderhandelings kan hervat,” het Sooliman gesê.
Agence France-Presse (AFP) het Saterdag berig ʼn bemiddelaar het glo kontak gemaak met Korkie se ontvoerders. Volgens AFP het die anonieme bron glo gesê Korkie lewe steeds. Sooliman sê sy organisasie het nog glad nie met die persoon kontak gemaak nie. -SAPA