Geen oorlewendes na twee vliegtuie glo in berg vasvlieg

Reddingswerkers maak gereed om met n soektog te begin na die twee vermiste Albatros-vliegtuie wat Sondag tussen Tzaneen en die Randse lughawe verdwyn het. Die wrakke van die vliegtuie is later teen die Mamotswiri-piek gevind. Geen oorlewendes is gevind nie. Foto: Giordano Stolley/SAPA

Al 13 mense aan boord van die twee Albatros-vliegtuie wat vermoedelik teen die Mamotswiri-piek aan die voet van die Drakensberg vasgevlieg het, is dood.

ʼn Polisiewoordvoerder in Limpop, brig. Hangwani Mulaudzi, sê die liggame van 13 mense insluitend twee kinders is naby die wrakke van die vliegtuie gevind. Die oorledenes is geidentifiseer as Brian Gruar, Marrion Anderson, Maddison en Alexandra Doak, Tess Spence, Louise Warden, Kevin Woolacott, Peter Gildenhuys, Stuart en Peter van Oldenburg, Frans Dely, Marietjie de Witt en Linda Pierce. Mulaudzi sê die families van die oorledenes is in kennis gestel en ontvang berading. ʼn Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse maritieme en lugvaartsoek-en-reddingsentrum, Johnny Smit, sê die vliegtuie het vermoedelik in die berg vasgevlieg. Die wrakke is omstreeks 8:20 Dinsdagoggend deur ʼn polisiehelikopter gevind hoog teen die Mamotswiri-piek. Die soektog na die twee vliegtuie wat Sondag tussen Tzaneen en die Randse lughawe vermis geraak het, is vroeg vanoggend hervat ondanks gure weer. Familielede van die passasiers aan boord die vliegtuie het vanoggend by die Mopani distriksmunisipaliteit se Rampbestuursentrum bymekaar gekom. Die Durbanse lugskou het gister bekendgemaak dat een van die passasiers op die twee vliegtuie een van sy koördineerders was. Volgens berigte was verskeie bekendes in die lugvaartbedryf en hulle gesinne, waaronder twee jong meisies, aan boord die vliegtuie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.