Geen oorskot in Mandela-grafte gevind nie

Mandela se huis in Qunu Foto: www.timesofmalta.com

Drie Mandela-familiegrafte in Qunu in die Oos-Kaap het geen menslike oorskot bevat toe dit vroeër die week opgegrawe is nie.

Luvuyo Titi, ʼn begrafnisondernemer in Mthatha, sê die Mandela-familie het sy maatskappy gevra om die grafte van Mandela se oudste seun Makgatho wat in 2005 oorlede is, sy eerste dogter Makaziwe wat in 1948 oorlede is en Madiba Thembekile wat in 1969 oorlede is, op te grawe. “Die familie het ons in kennis gestel dat hulle toestemming van die munisipaliteit gekry het om die grafte op te grawe. Daar is geen menslike oorskot in die grafte gekry nie.” Titi sê hy het die familie in kennis gestel waarna ʼn dringende vergadering Dinsdag by die Mandela-huis belê is. Twee Mandela-familielede wat die vergadering bygewoon het, het aan SAPA gesê dat Mandela se kleinseun, Mandla, gekonfronteer is nadat dit aan die lig gekom het dat hy opdrag gegee het dat die oorskot van die familiebegraafplaas verwyder word. “Toe Mandla oor die vermiste oorskot gekonfronteer is, het hy toegegee dat hy opdrag gegee het dat die oorskot na Mvezo geskuif word. Toe Mandla opdrag gegee is om die oorskot terug te bring het hy uit die vergadering gestorm.”

Sestien aansoekers van die Mandela-familie het Vrydag om ʼn dringende interdik aansoek gedoen teen Mandla, die Oos-Kaapse departement van gesondheid en die premier van die Oos-Kaap. Daar is geen besonderhede oor die omvang van die interdik bekend gemaak nie. Dit het intussen Vrydag in die hof aan die lig gekom dat die balju nie daarin kon slaag om die dagvaarding aan Mandla te oorhandig nie. Mandla het tot Saterdag om op die interdik te reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarie van Niekerk ·

Geen wonder die ou man se sterfte word so uitgerek nie. Wil hulle hom nou aan die lewe hou totdat die oorskotkwessie opgelos is. Ai tog waaroor gaan die spul Mandelas nog stry? Genugtig wat gaan hulle nog doen om te verseker die wereld se aandag bly op hulle. So ‘n sirkus het ek nog nooit teegekom nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.