Geen sekstonele meer vir JHB-akteur nie

‘n Deeltydse akteur van Johannesburg sal nie meer in enige sekstonele hoef te verskyn nie, alhoewel die hooggeregshof in Pretoria hom Donderdag aangesê het om terug te keer werk toe.

Lushen Naidoo, ‘n finansiële analis en deeltydse akteur, is verlede maand deur regter Ferdi Preller beveel om steeds aan te hou om tonele vir die rolprent “And Now?” te verfilm op voorwaarde dat die regisseur, Natalie Raphil, die draaiboek en verfilmingskedule aan hom sal verskaf. Naidoo het Woensdag teen dié uitspraak appelleer en gesê dat die talle sekstonele in die rolprent sy fisiese en geestelike gesondheid aantas, veral aangesien hy nie ‘n professionele akteur is nie.

Hy beweer ook dat die rolprentskedule met sy werk inmeng en sy verhouding met sy vriendin beïnvloed. “Daar is meer as 50 sekstonele… die aantal kere wat ons die tonele weer moet verfilm vereis ‘n vlak van toewyding wat nie vir my moontlik is nie,” het hy gesê.

Naidoo sê hy was onder die indruk dat hulle vinniger aan dié rolprent sou skiet as Raphil se vorige prent, “Behind 2010”, waarin hy die hoofrol vertolk het, maar baie min moes toneelspeel. Dit is nou reeds twee jaar en daar is glo nog nie ‘n einde in sig nie, het hy gesê.

Raphil het Preller versoek om Naidoo te beveel om hom aan die vorige hofbevel te onderwerp, ten spyte van die appèlaansoek wat nou ingedien is. Naidoo beweer daar is van hom verwag om in ‘n aantal “uiters verdagte” tonele te speel, insluitend ‘n toneel waar hy een van die aktrises openlik in ‘n openbare rolprentteater in Lenasia moet betas en om seks in dié teater se badkamer te hê. Raphil het gesê die akteurs hoef slegs die sekstonele te simuleer.

Preller het gedeeltes uit die draaiboek voorgelees wat, volgens hom, soos “die ware Jakob” geklink het en “byna soos ‘n pornografiese rolprent” lees.

Volgens Raphil sal Naidoo se onttrekking haar en die verfilmingspan “onherroeplike skade” aandoen, aangesien driekwart van die rolprent reeds afgehandel is, en R8 miljoen van die R11 miljoen-begroting reeds spandeer is.

Preller het Naidoo Donderdag aangesê om aan te hou om sy dienste aan Raphil beskikbaar te stel, op voorwaarde dat dit nie met sy voltydse beroep as finansiële analis inmeng nie. Hy hoef ook nie aan “enige tonele wat naaktheid reg van voor vereis” deel te neem nie. Hy hoef ook nie meer in enige seksuele dade met enige akteur of aktrise in die rolprent deel te neem nie.

Preller het dit duidelik gemaak dat Naidoo se betrokkenheid in die rolprent op 30 November moet staak.

Raphil is aangesê om Naidoo twee dae voor verfilming van ‘n draaiboek te voorsien en om hom R3 000 per maand te betaal vir sy dienste gelewer, en om al sy kostes, soos akkommodasie in ‘n privaatkamer, reis, etes en aktiwiteite te dek.

Preller het Raphil ook beveel dat sy nie van Naidoo kan verwag om dienste te verskaf waarvoor hy moontlik krimineel aangekla kan word nie.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.