“Geen Sjinese lanterns nie,” vra NSRI

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het die publiek Donderdag gemaan om nie Sjinese lanterns te gebruik nie, aangesien dit met ʼn noodroep verwar kan word.

“Sodra Sjinese lanterns opgaan en deur die lug dryf misgis talle ooggetuies dit as rooi noodfakkels,” het die NSRI in ʼn verklaring gesê. Dit volg na ʼn voorval in Stilbaai in die Wes-Kaap waar dosyne lanterns van die strand af vrygelaat is. “Verskeie berigte van rooi noodfakkels is aan die nooddienste gerapporteer waarop daar bevind is dat dit net Sjinese lanterns was.” Die NSRI het verder gesê dat die lanterns ook ʼn brandgevaar inhou en dat die draadraam van die lantern in sommige gevalle reeds as ʼn strik gedien het vir sekere diere.

Sjinese lanterns word gemaak van balsahout of ʼn dun draadraampie, ʼn papierdop met ʼn kersie of brandende toestel in die middel. Die kersie word aangesteek en genereer dan hitte wat die lantern in die lug laat opstyg (soortgelyk aan ʼn warmlugballon), totdat die kersie uitgebrand is en die struktuur dan terugval grond toe. “Die gebruik om Sjinese lanterns vry te laat is onverantwoordelike gedrag en ons doen ʼn ernstige beroep op die publiek om dit nie te doen nie,” het die NSRI gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.