‘Geen verband op Zuma se Nkandla-tuiste’

Zuma se Nkandla-landgoed. Foto: City Press

Daar is geen verband op president Jacob Zuma se Nkandla-landgoed in KwaZulu-Natal geregistreer nie, het City Press Sondag berig.

Die Sondagkoerant berig dat die grond waarop Zuma se landgoed gebou is deur die Ingonyama-trust besit word. Die trust staan onder leiding van koning Goodwill Zwelithini en bedryf sowat 32% van alle grond in KwaZulu-Natal namens die staat. Zuma het Donderdag in die parlement gesê: “Ek het die besluit geneem om by my huis aan te bou en het nog rondawels laat bou. Ek het ʼn heining om my huis gesit. Ek het na die bank toe gegaan en ek betaal daardie verband nou af.” Volgens City Press kon hulle geen openbare rekords kry om Zuma se bewering dat daar ʼn verband op sy Nkandla-landgoed is te ondersteun nie. Die aktedokument vir die eiendom wys dat die Ingonyama-trust die eienaar is. Belinda Benson, die eiendomsbestuurder van Ingonyama-trust, het aan City Press bevestig dat die rekords van die aktekantoor, wat deur die koerant verkry is, vir Zuma se Nkandla-landgoed was. Benson sê sy is nie bewus van ʼn verband op die eiendom nie. “Of dit reeds geregistreer is of steeds in die proses is en of die president ʼn verband op ʼn ander eiendom gekry het, weet ons nie.” Volgens Benson moet die trust betrokke raak wanneer ʼn verband op ʼn eiendom wat deur die trust besit word geregistreer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.