Geheimhoudingswet sal die ANC blootstel

Argieffoto

AfriForum het Maandag in ʼn skrywe, aan president Jacob Zuma, gewaarsku dat die toepassing van die sogenaamde Geheimhoudingswet ʼn internasionale verleentheid vir die ANC-regering sal beteken en deur baie beskou sal word as ʼn bevestiging dat die sogenaamde “Suid-Afrikaanse wonderwerk” van 1994 nie gerealiseer het nie.

In die skrywe het AfriForum opnuut ʼn beroep op president Zuma gedoen om sy magte ingevolge Artikel 84(2)(c) van die Grondwet uit te oefen deur die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting, soos dit amptelik bekend staan, na die konstitusionele hof te verwys vir ʼn verklarende bevel oor die grondwetlikheid daarvan, voordat dit onderteken word. AfriForum het ook herbevestig dat hy van voorneme is om die konstitusionele hof te nader, sou die president weier om sy bevoegdheid in hierdie verband uit te voer en die wet op die wetboeke beland.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat die ANC se poging om ʼn politieke “struggle” by wyse van wetgewing op die land af te dwing die gevolg is van die feit dat die organisasie steeds na homself as ʼn bevrydingsbeweging verwys, eerder as ʼn politieke party. “Die werklikheid is egter dat geen “bevrydingsbeweging” al ooit ʼn doeltreffende regering daargestel het nie. Hierdie stuk wetgewing is ʼn tipiese produk van ʼn beweging wat sy eie belange bó die van die land plaas.”

AfriForum het vroeër ʼn senior advokaat gekontrakteer om ʼn regsmening oor die grondwetlikheid van die wet op te stel. Hoewel sommige van die aanvanklike besware sedertdien uit die wetsontwerp geskrap is, is daar steeds ernstige kommer oor die wet. Enkele hiervan is die feit dat die wet so gekompliseerd is dat die inkonsekwente toepassing daarvan deur staatsamptenare wat nie in regsgeleerdheid opgelei is nie byna gewaarborg is, asook die gebrek aan ʼn verweer van openbare belang vir die bekendmaking van geklassifiseerde inligting.

AfriForum het ook reeds meer as tienduisend handtekeninge op ʼn petisie teen die wet ingesamel. Hierdie handtekeninge is verlede jaar in ʼn “petisierol” van langer as ʼn kilometer op die gras van die Uniegebou uitgerol.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.