Leon van Rensburg (52), wat voorverlede week vir ure vermis was nadat hy glo gekaap is, is in Kaapstad opgespoor.
Maroela Media het vroeër berig Van Rensburg, ‘n IT-spesialis van New Germany in Durban, is in die eerste voorval voorverlede week omstreeks 09:00 laas gesien toe hy sy werkplek in Hillcrest verlaat het. Hy het kort nadat hy gekaap is vir sy tienerdogter ʼn SMS gestuur wat gelui het: “Help, gekaap”.
Van Rensburg se wit Toyota Tazz is later verlate in Kokstad, sowat 200km verder, gevind. Kolonel Jay Naicker, ʼn polisiewoordvoerder, het voorverlede Donderdagaand bevestig dat Van Rensburg veilig tuis is.
ʼn Lasbrief is egter verlede Woensdag vir sy inhegtenisname uitgereik waarna Van Rensburg weer vermis geraak het. Naicker het toe gesê inligting wat hy van die beweerde kapingsvoorval bekendgemaak het, het nie ooreengestem met die polisie se ondersoek nie.
Kaptein Thulani Zwane, ʼn polisie-woordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die polisie het inligting ontvang dat Van Rensburg in ʼn hospitaal in Kaapstad is. “Dit is nog nie bekend hoekom hy in die hospitaal opgeneem is nie. Reëlings word getref om hom in Kaapstad te gaan haal sodra hy ontslaan word en na Pinetown toe te bring waar hy tereg staan op aanklagte van meineed,” het Zwane gesê. Van Rensburg kan aanspreeklik gehou word vir al die onkostes vir sy “soektog”.
Dit is uiters swak van die polisie om so jag te maak op n man, wat, duidelik, sielkundige en emosionele probleme het maar vir geharde kriminele en prioriteit sake word minimum tyd afgestaan.