Gekaapte pa waarsku ander

Leon van Rensburg

Leon van Rensburg (52), wat verlede week vir ure vermis was ná hy gekaap is, het ʼn waarskuwing aan ander motoriste gerig om te alle tye paraat te wees.

Maroela Media het vroeër berig Van Rensburg, ‘n IT-spesialis van New Germany in Durban, is verlede Dinsdag omstreeks 09:00 laas gesien toe hy sy werkplek in Hillcrest verlaat het. Hy het kort nadat hy gekaap is vir sy tienerdogter ʼn SMS gestuur wat gelui het: “Help, gekaap”. Lees meer hier.

Van Rensburg se wit Toyota Tazz is later verlate in Kokstad, sowat 200km verder, gevind. Kolonel Jay Naicker, ʼn polisiewoordvoerder, het Donderdagaand bevestig dat Van Rensburg veilig is.

“Kyk uit vir die modus operandi van kapings. Dit is hoe ek gekaap is. As jy ʼn stopstraat nader en daar is ʼn bakkie of voertuig alreeds daar, wees uiters versigtig wie om jou voertuig is,” het Van Rensburg Saterdag op sy Facebook-blad geskryf. Hy sê sy venster was oop toe hy skielik ʼn geweer teen sy kop gevoel het. “Hulle wag tot jy agter hul voertuig gestop het en dan nader ʼn medepligtige jou van die kant af. So wees asseblief ekstra versigtig,” het hy geskryf.

Naicker het Woensdag aan Maroela Media bevestig Van Rensburg het ʼn verklaring afgelê waarin hy beweer dat hy gekaap en na die Underberg-omgewing geneem is. “Inligting rakende die kaping word steeds ondersoek en kan in die stadium nie bekend gemaak word nie. Die Pinetown-polisie ondersoek ʼn saak van kaping en ontvoering. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie,” het Naicker gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Melissa ·

Dit is so belaglik dat ons so moet lewe, moet altyd alles sluit, moet altyd versigtig en openwakker wees vir wat om mens gebeur, KAN NIE met jou venster oop ry nie, moet alles in jou kar wegsteek sodat hulle jou nie kan smash&grab nie………. Goeie wetter dit maak mens moedeloos!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.