Gekaapte pa weer vermis; lasbrief uitgereik

ʼn Lasbrief is uitgereik vir die inhegtenisname van Leon van Rensburg (52), wat verlede week vir ure vermis was ná hy glo gekaap is.

Maroela Media het vroeër berig Van Rensburg, ‘n IT-spesialis van New Germany in Durban, is verlede Dinsdag omstreeks 09:00 laas gesien toe hy sy werkplek in Hillcrest verlaat het. Hy het kort nadat hy gekaap is vir sy tienerdogter ʼn SMS gestuur wat gelui het: “Help, gekaap”.

Van Rensburg se wit Toyota Tazz is later verlate in Kokstad, sowat 200km verder, gevind. Kolonel Jay Naicker, ʼn polisiewoordvoerder, het verlede Donderdagaand bevestig dat Van Rensburg veilig is.

Hy het oor die naweek op Facebook geskryf: “Kyk uit vir die modus operandi van kapings. Dit is hoe ek gekaap is. As jy ʼn stopstraat nader en daar is ʼn bakkie of voertuig alreeds daar, wees uiters versigtig wie om jou voertuig is.” Hy sê sy ruit was oop toe hy skielik ʼn geweer teen sy kop gevoel het. “Hulle wag tot jy agter hul voertuig gestop het en dan nader ʼn medepligtige jou van die kant af. So wees asseblief ekstra versigtig,” het hy geskryf.

Brad Nathanson Investigations het vroeër vandag bekend gemaak dat ‘n lasbrief vir Van Rensburg inhegtenisname uitgereik is. Hulle beweer ook dat hy glo van die polisie vlug en dreig om selfmoord te pleeg.

Kolonel Naicker het aan Maroela Media bevestig dat ʼn lasbrief Woensdag vir sy inhegtenisname uitgereik is. “Die polisie ondersoek ʼn klag van meineed. Inligting wat hy van die beweerde kapingsvoorval bekendgemaak het, het nie ooreengestem met die polisie se ondersoek nie. Die verdagte is Woensdag laas deur sy familie gesien en hy is steeds soek. Enigiemand wat inligting het oor waar Van Rensburg homself bevind, moet Crime Stop by 08600 10111 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.